Handelinge 1: 1-11

Die wonderbaarlike het gebeur. Die dissipels het gedink hul Here is dood, maar nou is Hy weer hier by hulle. Dit is amper weer soos in die ou dae! Jesus leer hulle en eet saam met hulle, en Hy vertel vir hulle van die koninkryk van God. Miskien het hulle allerlei vrae gehad: Sal dit ’n geografiese plek wees? Sal Jesus as ’n koning nou regeer in Israel? Of bedoel Hy iets anders? Watter rol sal hulle daarin speel? En wanneer sal hierdie koninkryk dan kom? Sekerlik nou dat Jesus opgestaan het en by hulle is? Jesus se antwoord aan hulle kom eintlik daarop neer dat hulle sal moet wag en kyk… Nie lank daarna nie, word Jesus in die hemel opgeneem.

Terwyl Jesus weggeneem word na die hemel, en die dissipels Hom stip agterna staar, vra twee mans in wit klere vir hulle: Waarom staan julle so na die hemel en kyk? Jesus sal weer kom. Daaroor hoef julle nie bekommerd te wees nie. Intussen, al is Jesus weg, is daar werk om te doen deur die krag van die Gees.

Die woorde van die twee manne herinner die dissipels: Jesus het hulle geleer om besig en betrokke te wees in die wêreld, nie om sterrekykers te wees nie. Hemelvaart beteken nie ons kyk na die hemel en vergeet van ons taak op aarde nie.

Hiermee kry ons eintlik ’n antwoord op die vrae oor die aard van die koninkryk van God – dit het ook iets te doen met die aarde en met mense. Die visie waaraan die dissipels moes bou, was nie gerig op die hemel waarheen Jesus vertrek het nie. Dit moes uitwaarts fokus op die wêreld wat die goeie nuus van Jesus Christus moet ontvang.

Dink jy, of staan jy spreekwoordelik na die wolke en kyk in jou stiltetyd, of fokus jy op die werk wat ons as gelowiges moet doen? Waar dink jy sal jy as gelowige getuie iets van Jesus se liefde kan deel?

Ds Erika Ferreira, Bellville

af
af
Deel met behulp van
Copy link