Psalm 3

Ons mense aanvaar so baie dinge gewoon as vanselfsprekend. Een daarvan is om te slaap. Na ’n dag se besig-wees, maak ons gereed vir slaaptyd, ons gaan lê en maak ons oë toe en raak aan die slaap. Soms kan ons maklik sê wat Dawid in vers 6 sê: As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Tog is dit nie altyd so maklik nie!

Ons weet egter dat Dawid nie net voorspoed beleef het nie. Die Psalm begin en beskryf sy benoudheid, hy het so baie vyande en so baie kom in opstand teen hom. Hy word gespot: Van die Here kom daar vir hom geen hulp nie. Waarskynlik het hy maar sleg geslaap onder sulke omstandighede. Maar Dawid spreek sy vertroue uit. Die Here beskerm hom van alle kante, die Here herstel sy eer en aansien, en die Here antwoord hom wanneer hy na die Here roep. Daarom sy opregte belydenis: Hulp kom net van die Here af.

Die Here leer ons hier drie dinge:

  • Ons moet nie teen ons probleme vaskyk nie. Probleme is dikwels uitdagings! Die Here gaan dit dalk nie wegvat nie, maar Hy gaan vir seker vir ons krag gee om dit te hanteer.
  • Bring u probleme na die Here toe. Ons wil tog so graag alles self doen. Ons gee ons probleme vir die Here, maar vat dit gou weer terug.
  • Stel u vertroue in die Here. Die Here sorg vir ons in alles wat ons nodig het. Die digter sê in vers 9b: U laat dit goed gaan met u volk.

Moenie dat u sorge u laat wakker lê nie. ’n Slegte nagrus gaan dinge net vererger. Kom ons leef in die vertroue dat God ons ook aan alle kante beskerm. Die Here wil dat ons soos en saam met die Psalmdigter kan sê: As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. 

Gesang 555: 1-3

Ds Leon Geel, Grimbeekpark

af
af
Deel met behulp van
Copy link