Vir die woord binnepret is daar nie ’n verklaring in die woordeboek nie. Die rede – dis sommer net ’n lekker uitgedinkte woord van iets wat ’n mens self beleef. Kom ons noem dit ’n selfbeleweniswoord!

Die HAT se verklaring vir pret is doodeenvoudig: plesier of vrolikheid. Daarom is dit so maklik om binnepret te verduidelik. Dit is pret of vrolikheid mét myself, vír myself en óm myself! Want ek is dit werd! Ek verdien om pret op my eie te beleef. Miskien is dit juis die antwoord en ligpunt in hierdie tyd van isolasie en bekommernis. Hierdie tyd waarin elke tweede woord in die media krisis, korona of COVID-19 is.

Dalk is binnepret juis die kuur wat ’n bietjie verandering kan bring. Binnepret bring dalk ’n sweem van ’n glimlag of die effense lig van ’n wenkbrou na buite, maar na binne word dit ’n oopvoublom wat ’n onuitputlike bron van plesierige selfvreugde word, wat die diepste menswees voed.  Die gevolg – om in myself iets positiefs te ervaar. Klink dit selfsugtig? Juis nie, want hoe meer vreugde binne ’n mens se gemoed groei, hoe meer sal dan weer uit die siel van daardie mens kan kom. Dit sal dan weer al hoe méér plesier verskaf aan elke mens met wie jy daagliks in aanraking kom! In hierdie tyd dalk meer gepas – mense wat my pad kruis.

Hoe voed ek hierdie bron van binnepret?

Begin by jou eie ervaring van emosie. As jy voel dat jy dood, diep en intens hartseer is, beteken dit juis jy is nié dood nie! Gee jouself toestemming om nét ’n gewone mens te wees. Ons hemelse Vader is lief vir gewone mense. Soos die lied lui: …ons is gewone mense, Here – kleipotte wat kan breek. Hy het ons dan gemaak! Hy self beskerm, rig en lei ons elke dag. Eers wanneer ons gestroop word van negatiewe belewings, ondervind ons die volle omvang van die menslike emosie en maak dit ons oop om juis die positiewe daarvan te beleef. Sodra jy dan jou emosies positief beleef, begin jy rondom jou kyk en sien jy die plesierige dinge om jou raak. Kom jy in kontak met juis daardie dinge wat jou binnepret-bron voed.

Tyd is noodsaaklik! Tyd saam met iemand wat jou nodig het, is weelde vir daardie persoon. Sonder om jou selfoon langs jou neer te sit, sonder om gou ’n SMS te lees, sonder die geklingel van jou motorsleutels of ’n geloer na jou horlosie. Nét jou ore is aan die werk. Dan stap jy na tien kosbare minute daar weg met ’n hart wat oorloop van binnepret! In die huidige omstandighede: sonder ’n drukkie of ’n aanvaarbare plaasvervanger vir toegeneëntheid. (Ai, skielik besef ek die waarde van ’n drukkie!)

Gebruik albei arms en bene! ’n Mens is gemaak om fisies aktief te wees. Dans! Dans! Dans deur jou huis! Speel vrolike musiek en beweeg, stoffer in die hand, op die maat daarvan. Nooi jou kinders om saam te dans, leer ’n passie of twee by jou huiswerker. Nie lank nie, of manlief gaan saam dans – mal oor sy vrolike, vriendelike en fikse vroulief. Hou gerus ook ’n bietjie verder van die supermark se deur af stil. Stap die entjie en groet almal in die verbygaan! Bring ’n bietjie sonlig na ’n sombere gemoed.

Wees op die uitkyk vir vreugde en plesier in en om jou! Konsentreer daarop om iets anders te probeer raaksien in die alledaagse dinge. Kyk ’n bietjie anders na die gewone dinge. Het jy al gekyk hoe verskillend jou vriendinne hul tee drink? Eers die melk of andersom? Moet die koppie se oor regs of links wees? Drink sy dit stomend warm of laat sy dit eers yskoud word? Moenie wag tot jy siek is nie om te besef hoe baie jou gesondheid werd is, of hoe lief jy vir iemand was wat skielik van ons weggeneem word deur die dood. Skaf ’n Dankbaarheidsboekie aan. Skryf elke aand ’n paar gebeure van die dag neer waarvoor jy baie dankbaar is en vertel môre vir jou huismense daarvan. Of oorweeg ’n uitvee-notabord met viltpenne teen die yskas. Hierop kan elke lid van die gesin daagliks ’n dankbaarheidsbelewenis neerpen. Hierdie boekie en bord gaan sommer gou vol raak en baie binnepret verskaf! Dit neem drie minute van jou dag wat vir seker ’n sterker geestelike immuunsisteem gaan opbou. Moontlik kan juis dit ook die lug suiwer. Is dit nie juis immuniteit en die suiwering van lug wat nou op almal se lippe is en so sterk aanbeveel word nie?

Vereenvoudig jou lewe! Asseblief! Ons betaal duur vir al die onnodige dinge wat ons inprop in ons kosbare dae. Ons werklading verlaag, ons verhoudingskwaliteit verlaag, ons lewenskwaliteit verlaag en ons goedvoel verlaag! Verlaag dit nie juis ook ons immuunsisteem en die suiwerheid in ons lewens nie?  Hoe kan ons dit doen? Skakel jou selfoon vir drie ure op ’n dag af. Moenie na elke e-pos wat deurkom kyk nie! Ignoreer die geluide wat die aankoms van nóg ’n WhatsApp aankondig of nóg beter, stel die aankondigingslui op sag. Gun jouself die luukse om te kan kies wat jy wil en wat jy nié wil doen nie. Sê dan met ’n geruste hart en ’n glimlag Nee, ongelukkig nie vir dié dinge wat jou immuunstelsel negatief kan affekteer. Berus en weet niemand kan of gaan jou kwalik neem nie!

Kyk soggens na jouself in die spieël en sê: Jy daar, jy is baie spesiaal! Onthou – jy is ’n meesterstuk uit God se hand. Enig, uniek – nét een soos jy. Ons Meesterskepper skep nie duplikate nie, maar nét oorspronklike meesterstukke. Elkeen ’n kunswerk in eie reg. Maak seker dat jy hierdie dag die mooi en die humor in alles en almal raaksien en bêre al jou wedervaringe diep binne-in jou pretsiel, waar jy dit kan koester om later te gebruik!

Só kan jy met ’n lag en ’n blye gemoed, en ten spyte van die pandemie, noodtoestand, voorkomingsmaatreëls, wintergriep, nies, hoes en proes, steeds pret beleef! 

 Visesekretaris: NHSV Hoofbestuur

af
af
Deel met behulp van
Copy link