Dit maak nie saak wie jy is, wat jou naam is, waar jy vandaan kom of hoeveel geld jy in jou bankrekening het nie, pyn is ’n onafwendbare deel van die lewe. Jy kan hom nie systap of ontglip nie. Niemand van ons word gevrywaar nie.

Wat kan ek dan doen om in moeilike tye gemotiveerd en positief te bly?

#1 Bly positief

Ons kan nie beheer wat met ons gebeur nie, maar ons kan wel ons respons daarop beheer. Victor Frankl, wat in die Duitse konsentrasiekamp Auschwitz was, het midde-in die vreeslikste omstandighede gesê: Wanneer ons nie meer die situasie kan verander nie, word ons uitgedaag om onsself te verander.

Verder het hy gesê: Alles kan van ’n mens weggeneem word, behalwe een ding, en dit is die vryheid om te kies hoe jy in enige gegewe situasie wil voel en optree. Jy kies jou gesindheid. Die enigste verskil tussen dié wat vou onder moeilike omstandighede en dié wat bo dit uitstyg, is ’n positiewe ingesteldheid. Dit kom op die einde alles neer op ’n keuse.

Wanneer jy in daardie donker, moeilike plek is van verlies, mislukking, hartseer of negatiwiteit, het jy nodig om ’n keuse te maak. Gaan jy reageer op jou pyn met ’n positiewe ingesteldheid wat jou sal help om te groei, jou meer gemotiveerd en gelukkig sal maak en vrede in jou lewe sal bring? Of gaan jy kies om eerder pessimisties te wees en om pyn toe te laat om jou lewe nog meer te vernietig as wat dit reeds gedoen het?

Herinner jouself daaraan dat, ten einde gemotiveerd te bly in moeilike tye, jy nodig het om positief te bly.

Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed. (Spr 4: 23, Die Boodskap)

#2 Hou jou gedagtes besig met positiewe leesstof

Ek dink die meeste van julle sal saamstem dat julle van jul waardevolste en belangrikste vaardighede geleer het deur te lees. Wat jy ook al wil leer of watter area van jou lewe jy ook al wil verbeter – jy kan, deur te lees. Daar is soveel wysheid, leiding, inspirasie en motivering te vind in goeie leesstof.

Outobiografieë of biografieë van mense se lewens bied ook vir ons ’n onuitputlike bron van wysheid. Dis altyd aangrypend om verhale te lees van hoe ander mense deur moeilike situasies gegaan het, selfs erger as wat jy nou deurgaan, en hoe hulle bo uit gekom het. Beter en sterker.

Wanneer jy jouself onderrig met die hulp van boeke, gaan jou oë oop vir die feit dat daar geen probleem, teëspoed of krisis in jou lewe is wat iemand anders nie alreeds oorkom het nie. Selfonderrig is die vinnigste manier om wysheid bo jou jare te verkry. Dit gee jou die geleentheid om in te skakel by antieke en moderne wysheid om enige probleem te oorkom.

En natuurlik is die Bybel van onskatbare waarde, want daarin kan ons God se stem en leiding vir ons lewens eerstehands hoor. Die Bybel self is ’n onuitputlike bron om ons te motiveer en te inspireer in moeilike tye.

U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. (Ps 119: 105)

#3 Omring jou met positiwiteit

Om gemotiveerd te bly in moeilike tye is nie maklik nie. Veral as ons om ons kyk en net pyn, lyding, stryd en ongelukkigheid sien. Gelukkig hoef jy nie ’n slagoffer te wees nie. Jou lewe is onder jou beheer. Jy het altyd die keuse om jou gedagtes te vul met positiewe dinge waarna jy luister en positiewe goed waarna jy kyk.

Al wat jy nodig het om te doen, is om by iTunes die nuutste inspirerende oudio af te laai of na YouTube te gaan en toegang te kry tot duisende motiverende video’s wat jou die inspirasie sal gee wat jy nodig het. Ek weet dis moeilik om te glo as jy midde-in ’n storm is, maar motivering is oral om jou. Motivering is oral, jy moet net weet waar om te kyk.

Ons sê altyd jou oë is die vensters van jou siel. Wat ons daarmee bedoel, is dat dit waaraan jy jouself blootstel, jou beïnvloed. As jy na slegte en lelike goed (beelde, films, ensovoorts) kyk, beïnvloed dit jou ingesteldheid en jou uitkyk op die lewe. Maar as jy na mooi goed kyk, is dit soos suurdeeg wat deur jou hele lewe versprei en alles in jou lewe positief beïnvloed.

Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig. (Luk 11: 34)

#4 Wees stil

Raak stil – stilte is een van die beste maniere om gemotiveerd te raak in moeilike tye. Stil tye saam met God. Om net stil te wees in die Here se teenwoordigheid vir tien of 20 minute kan die stres, bekommernis, depressie en negatiwiteit van enige situasie waarin jy is, verlig. Jy hoef nie te praat (bid) nie, jy kan net “wees”. God sal jou vul met sy kalmte, vrede en rustigheid, en jou lei na ’n kreatiewe manier waarop jy jou probleme kan oplos.

Wees stil en weet: Ek is die Heer. (Ges 519, LvdK)

Mag hierdie riglyne jou help, in die moeilike tye waarin jy jou bevind, om positief en gemotiveerd te bly.

Visetesourier: NHSV Hoofbestuur en leraar Gemeente Witfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link