Gukok is ’n plekkie aan die noordwestelike kant van die See van Galilea, ongeveer vyf kilometer wes van Magdala waarvandaan Maria Magdalena glo gekom het, en dieselfde afstand van Kapernaum af waar Jesus soms in die sinagoge gepreek het. Sedert 2012 het argeoloë ’n Joodse sinagoge uit die vyfde eeu hier ontdek.

Met die ondersoek van die gebou het hulle op mosaïektonele van Bybelse motiewe afgekom wat op die vloer en teen die mure rondom aangebring is en wat van onskatbare waarde is. Dié vonds word tans deur Bybelse argeoloë gereken as een van die tien grootste ontdekkings sedert die begin van die 21ste eeu.

Die plek Gukok

Gukok word twee keer in die Bybel genoem. Eers in Josua 19: 32-34 wat dié plek as ’n grensdorp in die gebied van Naftali beskryf, en later weer in 1 Kronieke 6: 74-75 waar vertel word dat dié plek ’n grensdorp in die gebied van Aser is.

In die Talmoed van Jerusalem word die plek saam met die verbouing van die mosterdplant genoem.

Gedurende die tyd van die Ou Testament, tot en met die Laat-Romeinse en Bisantynse tyd (vierde tot sesde eeu na Christus), was Gukok nog ’n welvarende nedersetting.

Daar bestaan aanduidings dat die plek nog bewoon is gedurende die Persiese, Hellenistiese, Vroeë Romeinse, Abbasidiese, Fitimidiese en Kruisvaardertyd. Die plek het maar eers so onlangs as 1948 begin ontvolk tydens Israel se oorlog om onafhanklikheid. In 1960 is Gukok finaal platgestoot.

Die plek het 52 jaar lank onaangeraak gelê, hoewel die terrein deur die beskerming van die Israelse Raad vir Oudhede bestuur is, voordat daar in 2012 met alle erns begin is om opgrawings te doen. Die opgrawings word gelei deur prof Jodi Magness van die Universiteit van Noord-Carolina.

Tussen die ruïnes van dié nedersetting het argeoloë afgekom op die oorblyfsels van ’n Galilese sinagoge wat uit die Bisantynse tyd dateer. Onder die bestaande fondasie van die sinagoge het hulle ’n tweede fondasie ontdek, wat die oorspronklike vloer van die sinagoge was. Hiérdie ontdekking het tot groot opgewondenheid gelei.

Saam met dié fondasie is ’n aantal erdekruike en munte ontdek wat die tyd wanneer die Galilese sinagoge opgerig is, redelik akkuraat kan bepaal. Daarmee is vasgestel dat die sinagoge nie vroeër nie as in die laat vierde eeu na Christus gebou is.

Al die huise in die omgewing is met plat dakke gebou. Dié gebou is die enigste wat beskik het oor ’n staandak wat met teëls gelê is. Daaruit kon afgelei word dat die gebou iets meer besonders was as ’n gewone huis. Met verdere ondersoek is toe vasgestel dat die plek as ’n sinagoge vir die Joodse Christene gedien het.

Die mosaïektonele wat gevind is, wissel van bekende Bybelse tonele, soos Jona en die vis, Noag se ark, die toring van Babel, Simson, die farao en sy soldate wat deur duisende visse in die Rietsee opgevreet word, en Alexander die Grote, tot ’n sodiakteken in die middel van die vloer.

Dié mosaïek werp nuwe lig op die verstaan van Judaïsme gedurende die Laat-Romeinse en Bisantynse tydperke. Die persepsie dat geen beeldende motiewe die Joodse kultuur gedurende daardie tyd mag uitgebeeld het nie, word met die ontdekking van hierdie mosaïekbeelde in die sinagoge weerlê.

Die mosaïek aan die noordekant van die sinagoge word verdeel in twee panele met Bybelse motiewe en Hebreeuse byskrifte daarby. Die motiewe word uiteindelik afgerond met ’n frase wat lees Amen sela aan die einde van die uitbeeldings, wat beteken Amen vir ewig.

Jona en die vis

Een van die opspraakwekkende ontdekkings is ’n mosaïektoneel wat in 2017 gevind is en waarin Jona en die vis uitgebeeld word. Die toneel wys hoedat Jona reeds deur ’n vis ingesluk word. Net sy bene steek nog by die vis se bek uit. Agter die vis verskyn ’n tweede en nog gróter vis wat besig is om die vis met Jona in sy bek in te sluk. ’n Derde, en selfs nóg groter vis, is dan besig om óók van agter af dié twee visse en Jona in te sluk. Hierdie toneel is die enigste voorstelling wat nog ooit van Jona en die vis in enige Joodse sinagoge gevind is.

Een van die uitsonderlike voorstellings van die toneel is die uitbeelding van Grieks-Romeinse motiewe. Aan die linkerkant heelbo staan drie harpspelers uit die mitologiese wêreld wat die toneel dophou. Dié drie karakters lyk soos groot voëls wat regop staan en met die koppe en kaal bolywe van vroue. Van agter hul rûe kan vlerke gesien word om aan hulle die beeld van gevleuelde wesens te gee. Hulle verteenwoordig die vier seisoene, en met die harpe in hul hande, beeld hulle die stormwinde uit. Wanneer die winde huil, klink dit soos harpe wat speel.

Vyf matrose is op die boot. Drie staan fisies op die boot. Die een aan die agterkant, regs in die motief, is die bootsman en hy stuur die boot aan met twee roeispane, een in elke hand. Nog een klim teen die mas op, terwyl ’n vyfde matroos bo in die takelwerk sit en met sy regterarm die rigting wat die boot moet vaar, aandui.

Rondom die boot waarop Jona was, kan die romp van minstens nog twee bote en hul matrose gesien word. Minstens nóg 17 visse, ’n seekat en ’n seeslang swem in die water rond. Die seeslang is gedraai om ’n vis wat amper soos ’n swaardvis lyk.

Die voorstelling van drie visse agter mekaar, elkeen met die ander in sy bek en Jona se bene wat uit die voorste een se bek steek, is uitsonderlik. ’n Soortgelyke voorstelling is nog nooit voorheen gevind nie. Die afleiding dat dié voorstelling moontlik op ou mondeling oorgelewerde tradisies gebaseer is, is onwaarskynlik. Daar sal meer getuienis ontdek moet word om so ’n persepsie te steun.

Wat die betekenis daarvan onder die vroeë Christene was, is in hierdie stadium nog glad nie seker nie. Die moontlikheid dat die drie visse ’n vroeë uitbeelding van die Drie-eenheid van God mag wees, moet ook versigtig oorweeg word, omdat daar in die vroeë Christelike kuns nog nêrens enige uitbeeldings aangetref is waar God simbolies met die beeld of uitdrukking van ’n vis voorgestel is nie.

Die navorsing wat tans op hierdie besondere mosaïekpaneel gedoen word, beloof om met baie interessante waarnemings te kom oor hoe die vroeë Christene die Ou Testament verstaan en die ou verbond op hul geloof toegepas het.

Volgens Magness is hierdie plek heel waarskynlik die sinagoge waarna die Franse dokter, HaKohen Ben Moses, reeds in 1322 verwys het in sy bekende werk oor die Aardrykskunde van die Heilige Land.

 

© Foto: Jim Haberman, Universiteit van Noord-Carolina (UNC) se Mediabetrekkinge

af
af
Deel met behulp van
Copy link