Ek kom ’n rukkie gelede af op ’n Britse realiteitsprogram op televisie waar ’n vrou ’n uitnodiging ontvang het na een van koningin Elizabeth II se tuinpartytjies in die tuin van Buckinghampaleis, die huis van die koningin.

Ek was in die eerste plek ’n bietjie verstom dat daar ’n uur lange program oor so iets gemaak kan word, maar toe ek werklik begin kyk en luister, was ek nog meer verstom om te besef dat hierdie program oor ’n paar maande opgeneem is en dat dit duisende Britse ponde gekos het.

Die hele program het gedraai om die ontwerp, maak en pas van die uitrusting en hoed – die fascinator soos dit deur hulle genoem word – vir die geleentheid. Die absolute erns en toewyding waarmee die gepaste klere en hoed gekies, ontwerp en gemaak word, het my stomgeslaan.

Hierdie is ’n funksie waar ’n gewone mens miskien die geleentheid gaan hê om (DALK) die hand van die koningin te skud of (DALK) prins William of hertogin Catherine te ontmoet. Dit het my nogal laat dink.

Ons is tans in ’n grendelstaat. Ons kerke se deure was toe vir ongeveer twee maande, en vanaf 1 Junie mag ons weer eredienste hou met vele beperkings en kan kerkrade ook daarteen besluit weens die risiko’s daaraan verbonde. Nou weet ek dat die kerkgebou nie die kerk is nie. Ek hoor en sien dit elke dag en almal vertel dit vreeslik graag. Maar ek mis my kerk. Buiten die gewone frustrasie van ingeperk te wees, nie te kan kom en gaan soos ek gewoond is nie, ’n masker of ’n skerm op my gesig te moet dra, wat my verder inperk, mis ek my kerk en Sondae se kerk toe gaan verskriklik. ’n Sondag is nie dieselfde as ek nie kerk toe was nie. Dis nie dieselfde om, soos op elke gewone weekdag, oggendgodsdiens te hou aan die ontbyttafel nie.

Ek mis my Sondae se kerk-toe-gaan-rituele. Die vroeg opstaan om solank voorbereidings te tref vir die middagete. Ek mis die klaarmaak vir kerk – my man wat sy pak aantrek en sy das knoop. Ek wat my beste aantrek, wat slegs kerk toe aangetrek word. Ek mis dit om die laaste van Loof die Here op RSG te luister op pad kerk toe. Ek mis dit om in die konsistorie in te stap en my geloofsfamilie te groet. My familie in wie se huise ek dalk nog nooit was nie, maar nogtans my familie. Ek mis dit om in die kerk te sit en op te kyk na die dominee met sy toga op die preekstoel, wat vir my sê: Hier betoon ons respek, want ons gaan nou die Here ontmoet. 

Ek mis dit om die wet en belydenis te hoor en om Psalms en Gesange te sing. Nie liedere nie – nee, dis te gewoon. In ons Kerk sing ons Psalms en Gesange tot eer van die Here. Ek weet die kerkgebou is nie die kerk nie, maar ek mis die gemeenskap van die gelowiges.

Ons is nie uitgenooi na ’n tuinparty van koningin Elizabeth II nie, maar ons word elke Sondag steeds uitgenooi na die huis van die Here om Hom te ontmoet.

Hoe word hierdie ontmoeting deesdae hanteer? Hoe berei ek en jy ons voor vir hierdie ontmoeting? Hoe antwoord ek en jy op hierdie uitnodiging?

Visevoorsitter van die NHSV Hoofbestuur en lidmaat van Gemeente Lydenburg

af
af
Deel met behulp van
Copy link