(Foto’s: NHKA Argief, CJ de Bruin, Robert Erasmus, Diederik Kuhne, Neels Jackson, Nerine du Plessis, Google en Facebook)

Iemand het ’n lappop op ’n ashoop weggegooi. 

Ons Museum bestaan nie uit ’n klomp weggooigoeters nie.

Dis ook nie ’n garage wat net stoorplek is vir ’n klomp opgaargoeters nie.

Ons Museum is ’n spoguitstalkas wat die skatte van ons Kerkgeskiedenis wil vertoon!  Die kernbesigheid van ons Museum is om te bewaar, uit te stal en in te lig.

Die SP Engelbrecht-museum behoort aan ál 68 000 belydende lidmate en ál 16 000 dooplidmate, ál 296 gemeentes. Dis die héle NHKA se Museum!

Maar die vraag in baie se gemoed is tans: Gaan ons Museum oorleef? Wil ons hê ons Museum moet oorleef?

Prof SP Engelbrecht word beskou as ’n kerkvader van die NHKA. Hy was kerkhistorikus by uitnemendheid. Hy onderrig Kerkgeskiedenis aan UP, maar ook Suid-Afrikaanse “Vaderlandsgeskiedenis”. Ons sien dit in ons versameling: kerkeie items (kerkvoorwerpe en kerkmense se voorwerpe),ook kultuurvoorwerpe wat wyer kyk as kerk en dus volksgeskiedenis in herinnering roep. ’n Baie kosbare versameling wat prof SP met versiendheid bymekaargemaak het!

Ou ds DF Erasmus (sr) het geskryf dat prof SP argusoë gehad het. Baie oë, waarvan daar altyd ’n klomp wakker was. Altyd wakker en bewus – sien raak en identifiseer items wat bewarenswaardig is vir ons geskiedenis en veral vir ons toekoms.

Ons Museum is die grootste kerkmuseum in Suid-Afrika. Die ander Kerk wat ’n museum het, is die GKSA in Potchefstroom. Die NGK het ’n klein uitstalruimte in Stellenbosch by hul Argief. Hier en daar word kleiner museumpies by gemeentes gevind. 

Ons wil tot diens wees vir die Kerk soos ons nuwe Kerkembleem ons oproep. Ons wil waarde toevoeg tot al die bedieninge van gemeentes. Maak daarom van ons kosbare erfenis gebruik. Kom met jou lidmate, kom met die kinders en jongmense, en laat hulle die Hervormde Kerk ervaar. Leer hulle van ons Kerk. Bring jouself, jou volwasse lidmate, word bewus van hoe die Hervormde Kerk lyk of gelyk het – ontdek wortels en identiteit. Die Museum is ons gawe. Ons is bevoorreg.

Ons Museum is nie ’n argief nie. Die Argief by die Erfenisstigting langs die Voortrekkermonument bewaar dokumente, notules, registers, boeke, foto’s, briewe en dies meer. Mense kan navorsing gaan doen, selfs via internet of e-pos. ’n Museum kan nie ingepak word nie. ’n Museum lééf juis in uitstalling en wanneer mense kan kom en kyk hoe lyk hierdie driedimensionele voorwerpe wat werklikwaar in die verlede daar was, byvoorbeeld ’n kerkbank waarop Jopie Fourie moontlik gesit het, iets wat gebruik is deur die eerste predikant in Transvaal, ensomeer. Dit doen iets aan iemand om hierdie goed te kan sien en dalk soms daaraan te kan vat ook.

Die eerste item in die Museum: Gert, prof SP se vader, se sterfonderbaadjie wat baie persoonlik is; dit vertel ook God se storie saam met sy mense. Gert, ouderling van Gemeente Standerton: Sy vrou het al die boeke van Trichardsfontein/Standerton tydens die Anglo-Boereoorlog veilig bewaar op vlugtogte.

Klein Fanie word groot: Iets moet bewaar word. Gert sterf in 1901 met onderbaadjie aan, agterop ’n bloedkol. 1905 – op 14 jaar begin hy dokumente en ander items bewaar. Ons Museum is dus inderwaarheid 114 jaar oud! Sedert 1961 is die Museum amptelik uitgestal.

Nou is ons Museum tuis in Wonderboompoort se 1905-kerkie. ’n Voorreg. Na goeie samewerking met Gemeente Pretoria in die Du Toitstraat-kerkgebou. Nou by Wonderboompoort en in die ring van Noordelike Pretoria. In vennootskap; ideaal geleë; maklike toegang; veilige parkering

Die Museum help die gemeente met inkomste – hulle vra R3 500 huur en waarde word toegevoeg aan hul terrein. Die gemeente help die Museum – skenk water, krag, sekuriteit, ’n tuindiens en algemene instandhouding.

In 1953 word die NG-geboutjie (mev Drienie Joubert laat die kerkie na) ’n Hervormde gebou van die nuutgestigte Gemeente Wonderboompoort, later ’n saal, ’n trouvenue in 2013.

In 1905 is die kerkie juis gebou as ’n uitreik na lidmate in groot materiële nood ná die Anglo-Boereoorlog. Selfs Laerskool Mayville was ’n rukkie lank in die kerkie. 

Die ou Museum in Du Toitstraat 2010-2018, nou ’n nuwe Museum – ’n heel andersoortige ervaring.

 

Daar is een vlak met verskillende vertrekke wat met die Museummeubels gevorm is.

 

Die Museum is tans baie goed geleë, sentraal in Pretoria, veilig. Dit het amptelik op 20 September 2018 geopen.

Die huidige uitstalling wil al die temas/bedieninge van die Kerk vertoon.

 

Nie net tydperke nie, byvoorbeeld predikante as kapelane betrokke by lidmate in verdedigingsmagte, Polisie, Lugmag, Weermag, kommando’s op plase, ensovoorts. Ook diens van barmhartigheid, onderrig, getuienis en vele meer. Die Museum vind ons tuis in die Kerk se werk onder ONDERRIG en GETUIENIS.

Afdak – met bokwa, Voortrekkergrafstene, gedenkstene en hoekstene.

 

Spore van Hervormers op die Tukkie-kampus. Kom soek jouself of jou dominee of professor daar op foto’s. 

Mondeling by prof Theuns Dreyer – twee stoele waarop menige student gesweet het tydens ’n mondelinge eksamen!

Liturgiese ruimte – prediking, Doop, Nagmaal, huweliksbevestiging, kollekte/dankoffers. 

Pragtige NHSV-uitstalling, selfs nederige koekblikke wat hard gewerk het vir die Kerk. 

Ons hek – ons is ’n Museum met ’n straatadres!

 ’n Museum wat leef in uitstalling by Mansfield 624, Eloffsdal.

Die ring van Noordelike Pretoria het ons Museum in hul midde ontvang en reeds met ons ’n vennootskap aangegaan. Hul ondersteuning is onder andere gewys deur geld te skenk: R1 per lidmaat per jaar. Met ’n somtotaal van R4311. Dis deels gebruik vir die finansiering van die kunskompetisie met die opening asook die heroprigting van die groot art deco vertoonkas. Uit al die ringsgemeentes van Noordelike Pretoria het daar mense gekom om te help met die uitpak van die Museum op 16 Junie 2018. Daar was ook ander skenkers, nutsmanne, ensovoorts.

Ek kom nie net om dankie te sê nie, ek kom ook om te kom vra, broers en susters en ander lesers. Dalk dink jy dadelik dat ek net geld kom vra, maar ek kom vra vir voortgesette ondersteuning. Ek vra dat jy dit verder na ringsvergaderings en gemeentes sal neem: die saak dat ons steeds die SP Engelbrecht-museum sal hê.

Dit lê vir ons wat gemoeid is met die Museum baie naby aan ons hart. Ons wil die erns van die versiendheid van prof SP Engelbrecht tot vandag toe deel en sê: Ons kan mos nie sonder ’n museum wees nie. Ons kan nie ons wortels afsny, wegsteek, in bokse gaan verpak nie.

 

Kom ons wees vennote en kyk of ons kan opkom met kreatiewe alternatiewe maniere om ons finansiële dilemma te oorkom en steeds Museum te wees. Ons ondersoek ook ander moontlikhede vir fondsinsameling wat die druk van die breë Kerk sal wegneem.

En daarmee saam wil ek vra: Kom ons kyk nou na die harde feite van die finansies. Hou dit in gedagte wanneer jy gaan dink oor die Museum: Een Lemon Cream-koekie kos R1.

As elke lidmaat vir sy/haar Kerkmuseum net R1 per jaar gee, sou die Museum steeds kon voortgaan op die terrein van Wonderboompoort. Ons het maandeliks R5 000 nodig om ons boeke te laat klop. In ’n jaar praat ons van R60 000. Daar is 60 000 belydende lidmate by rowwe benadering in die NHKA.

Ons dink selfs aan ’n Projek 100 Vriende van die Museum wat maandeliks R100 (6 liter melk en brood) of R50 gee om spesiale museumkundige dienste ook te kan bekostig. Dalk wil of kan jy ’n bydrae maak?

Ons het jóú nodig. Wees ten gunste van ons NHKA-museum! Bring jou mense om te kom sien en te kom leer van ons Kerk. Selfs die heel kleintjies – ons bied ’n toer spesiaal vir hulle. Help ons finansieel.

Bethal, die worshond, nooi jou uit – kom luister na sy storie. Dit gaan nie net oor geskiedenis ouer as 100 jaar nie, maar ook oor geskiedenis so onlangs soos Wesmoot op 11 April 2019 – iets tasbaar: van die wonderwerk dat die kerkgebou nie afgebrand het nie onder Christus se bewarende hand.

Pamflet met detail-inligting, dis ook in 2019 se Almanak / Bybelse Dagboek

Ons by die Museum is opgewonde oor die toename van besoekers: in 2017 = 200, in 2018 = 160, en tot einde Augustus 2019 reeds 270!

Sluit aan by ons Facebookblad SP Engelbrecht Museum (reeds 1 114 vriende), nooi jou gemeente uit om ons te kom besoek, besluit jy wil steeds ’n museum hê, en as dit moontlik is, ondersteun ons met ’n finansiële bydrae.

ABSA takkode 632005

Rekeningnaam KERKGELD VIR KERKWERK 020149752

Verwysing: 2468 + jou naam

Stuur nota aan Museumkurator 082 733 3951 / cjdb@telkomsa.net

Wat dink jy?

Sal jy of jou maatskappy of vereniging of gemeente kan help?

Gaan ons Museum oorleef?

Vriendelike Museumgroete!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap