Moet ons Sondag ’n erediens hou of nie? Sou jy jou ’n jaar gelede kon voorstel dat kerkrade enigsins hieroor kan wonder?

Die aankondiging dat Suid-Afrika op 1 Junie 2020 na Vlak 3 van die ramptoestand beweeg en dat gemeentes toegelaat sal word om onder streng voorwaardes eredienste te hervat, het die deur oopgemaak. Maar elke kerkraad moes nou self oordeel of dit in hul unieke situasie die verantwoordelike ding is om te doen. Ons wil immers nie ons lidmate aan die koronavirus blootstel of superverspreiders van die virus word nie.

Binne gemeentes van ons eie Kerk en ook ander kerke het dit behoorlik gegons. Is dit verantwoordelik, veral as ons in ag neem hoeveel van ons lidmate en getroue kerkgangers ouer as 60 is? Kan kerkrade van ouer predikante of ’n predikant met ’n hoërisikoprofiel verwag om eredienste te lei? Is dit die moeite werd om eredienste te hervat as slegs ’n klein getal lidmate kerk toe kan of wil kom? Veral waar predikante en gemeentes feitlik deur die bank berig hoe hul tuisopnames van boodskappe via Facebook, WhatsApp en YouTube wyd versprei en gekyk word?

’n Hele aantal gemeentes oral in die land het nogtans by die eerste geleentheid, op Sondag 7 Junie 2020, weer hul eredienste hervat. In sommige gevalle het hulle selfs drie of vier eredienste gehou, en in party gevalle hou hulle daarbenewens ook in die week addisionele eredienste vir spesifieke teikengroepe in die gemeente. Die terugvoer na afloop van die eerste erediens in amper drie maande was deur die bank uiters positief.

Die skrywe wat die Sinodale Dienssentrum vooraf aan alle gemeentes gestuur het, het die breë riglyne van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke onder almal se aandag gebring. Daarin is gemeentes onder meer versoek om lidmate met ’n hoërisikoprofiel aan te raai om eerder nie die eredienste by te woon nie. SENTIK het ook pragtige plakkate ontwerp wat gemeentes op strategiese plekke kan aanbring om lidmate aan die belangrikste voorkomingsmaatreëls te herinner. 

Kerkrade het konsekwent groot sorg aan die dag gelê om te verseker dat die nodige maatreëls in plek is. Maar dit was veral ’n riem onder die hart om te beleef hoe lidmate hul gemeentes kom help het om die kerk gereed te kry om eredienste te hervat. Dr Elritia le Roux getuig dat die goeie beplanning en organisasie van Middelburg se kerkraad en bekwame sekretariële beampte verseker het dat alles seepglad verloop. ’n Kundige lidmaat van Philadelphia het ’n omvattende risiko-analise en bestuursplan vir die gemeente opgestel wat elke denkbare aspek dek. Zuurfontein en Culembeeck se lidmate het vooraf die sitplekke en rye duidelik uitgemerk omdat hulle meer as een erediens gehou het. Lidmate van Swellendam het kontaklose temperatuurmeters en handreinigers vir die gemeente geskenk. In Kempten het lidmate as voorsangers opgetree aangesien gemeentesang nie tans moontlik is nie. In talle gemeentes het lidmate self voor en na die eredienste die kerk behoorlik skoongemaak, dele van die kerkgebou afgesper en sitplekke uitgemerk. By mense se aankoms by die gemeente was daar telkens lidmate wat almal se temperatuur gemeet het en presensie gehou het.

Ds Thomas Joubert (Swellendam/Bredasdorp) vertel hoe opgewonde die lidmate was om mekaar te sien, selfs al was dit agter ’n masker. Ds Rue Hopley vertel dat die trane vlak gelê het by sommige lidmate, en dr Willie Strydom berig dat talle lidmate van Eikenhof die geleentheid van ’n erediens in die kerkgebou dankbaar aangegryp het omdat hulle nie gemaklike toegang tot die internet het nie of nie oor genoeg data beskik nie. Deurgaans het die lidmate hulle by die reëls gehou en fisiese afstand gehandhaaf.

Ja, die eredienservaring was nie heeltemal soos altyd nie, veral omdat die kerk nie vol was nie en gemeentes nie soos gewoonlik kon sing nie.  Ds Annerie Conradie vertel dat die lidmate aanvanklik selfs verdwaas voorgekom het omdat hulle nie kon sing nie. Meestal het die gemeentes opnames van musiek voorgespeel, en tog was daar steeds mense wat selfs van agter hul maskers voluit saamgesing het.  Ds Joubert vertel weer dat hulle juis die geleentheid gebruik het om toepaslike liedere wat gewoonlik moeilik sing, in die erediens voor te lees. Vir volgende Sondag het hy lidmate genooi om die liedere se woorde in die erediens voor te lees.

Vir die predikante was daar ook maar uitdagings. Dis moeilik om vir die mense te kyk wat so yl verspreid deur die kerk sit, en om nog vir ’n kamera ook te kyk wat vir die tuisblyers ’n opname maak, moet ’n mens hare op jou tande hê. ’n Dominee wil graag op die lidmate se gesigte sien of hulle hom/haar volg, en dit was lastig om nie die lidmate se gesigsuitdrukkings te kon sien nie. Maar ds Etienne Fourie sê die grootste probleem was eintlik die liturg wie se emosies oorgekook het!

Dit is duidelik dat daar by baie lidmate ’n groot behoefte was om weer saam met die gemeenskap van die gelowiges ’n erediens in die kerkgebou by te woon. Ds Hannes van Rensburg (Zuurfontein) vertel dat ongeveer 10% van die mense wat vooraf bespreek het, nie lidmate van die gemeente is nie, en dat hulle teen Woensdag reeds vir lidmate moes sê dat die beskikbare plekke vir die twee eredienste klaar opgeneem was.

Maar die sprekendste getuienis is dalk die boodskap wat ’n lidmaat van Gemeente Kempten ná die erediens stuur: Wat ’n voorreg, ’n absolute seën om in die huis van ons Here te kon wees. Dit was by verre beter as om net ’n stem te hoor. Daar is maar net ’n onbeskryflike heiligheid in sy huis teenwoordig. 

Culembeeck se erediens

Uitgemerkde plekke om Zuurfontein se kerkgebou binne te tree

Psalm 84

2          Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige!

3          Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.

4          Selfs ’n mossie het ’n nes en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God!

5          Dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap