In 2019 word HTS Teologiese Studies / Theological Studies se 75ste volume uitgegee. In November 1943 is die eerste aflewering “onder redaksie van Teologiese Professore van die Ned. Herv. Kerk aan die Universiteit van Pretoria” gepubliseer.

Die eerste uitgewer was die “Firma J.H. de Buissy [in Pretoria] en H.A.U.M. [in Kaapstad].” Op die buiteblad van die eerste uitgawe word die “Sekretariaat van die Redaksie” in die eerste uitgawe as “Lisdoganlaan 164, Pretoria” aangedui, die woning van prof SP Engelbrecht. Senator TFJ Dreyer, Hervormde predikant en skriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, het ’n “welkomswoord” geskryf. Ds TFJ Dreyer is die oupa van die huidige mederedakteur prof Yolanda Dreyer. Hy sluit sy “welkomswoord” af met die woorde: “Ons wens die Redaksie en die ondernemende uitgewer hartlik geluk met die Studies en bid hulle toe Gods rykste seën. Vivat, crescat, floreat.”

HTS “lewe”, “groei” en “blom” inderdaad reeds 75 jaar lank – Suid Afrika se oudste teologiese vaktydskrif, Suid-Afrika se grootse vaktydskrif onder alle wetenskaplike dissiplines, en Afrika se mees gesiteerde joernaal. In 2018 het 81 326 lesers in Afrika HTS aanlyn gelees en 138 495 in die res van die wêreld. Die eerste volume het uit vier navorsingsartikels bestaan. Die 75ste volume bestaan uit 271 navorsingsartikels waarvan 42% met die Fakulteit Teologie en Religie geaffilieer is, dit wil sê, 115 navorsingsartikels. Die persentasie verwerpingsyfer in 2019 was 26%.

Op aanbeveling van die kernredaksie en prinsipieel goedgekeur deur die Algemene Kommissie, besluit die 72ste Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika op 26 September 2019 om die titeleienaarskap van HTS aan die Kaapstadse akademiese ooptoeganguitgewer African Online Scientific Information Systems (AOSIS) oor te dra. Die Algemene Sekretaris van die Algemene Kommissie van die Nederduitsch Hervormde Kerk, dr Frikkie Labuschagne, en dr Pierre de Villiers, Besturende Direkteur van AOSIS, het die kontrak, teruggedateer na 1 September 2019, geteken. Die eerste kontrak met AOSIS as HTS se uitgewer is tien jaar gelede in 2009 gesluit. HTS was die eerste aanlyn ooptoegang teologiese vaktydskrif in Afrika.

Die eerste redaksie in 1943 is saamgestel uit prof J de Zwaan (Leiden), prof HW Obbink (Utrecht), prof B Gemser (Groningen), prof A van Selms (UP), prof JHJA Greyvenstein (UP), prof SP Engelbrecht (UP) en prof AS Geyser (UP). Die eerste drie was verbonde aan die drie Nederlandse universiteite wat oor die jare die sterkste invloed op die etiese-dialektiese teologie van Hervormde teoloë uitgeoefen het. Die vier UP-professore was die lede van die Hervormde Dosentevergadering aan die Universiteit van Pretoria. Tot en met die 75ste volume in 2019 het die Hervormde Dosentevergadering die kernredaksie van HTS gevorm.

In 1985 is prof Andries van Aarde deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering as hoofredakteur gekontrakteer. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se titeleienaarskap het begin toe die NHKA die HAUM uitgewery gekoop het. Aanvanklik was die “sekretariaat” gesetel in die kantoor van die Skriba/Algemene Sekretaris van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Vanaf 2000 het die Algemene Kerkvergadering besluit om die HTS onder die nuut gevestigde Hervormde Teologiese Kollege aan die Universiteit van Pretoria te laat sorteer en het die HTK verslag oor HTS se werksaamhede aan die Algemene Kerkvergadering tot en met die 72ste vergadering in September 2019 gedoen. In die oordragkontrak word egter daarvoor voorsiening gemaak dat Hervormde teoloë steeds die reg sal kan uitoefen om tot 25% van die totale aantal artikels te publiseer.

Die kernredaksie van HTS, onder voorsitterskap van prof Ernest van Eck, word formeel op 31 Desember 2019 ontbind en die dienste van prof Yolanda Dreyer (mederedakteur), dr Tanya van Wyk (assistentredakteur), prof Jaco Dreyer (assistentredakteur) en ds Carusta van der Merwe (publikasiekoördineerder) word ook op 31 Desember 2019 beëindig. HTS sluit met die 75ste volume af met ’n rekord aantal publikasies en ’n rekord verwerpingpersentasie.

Gedurende 2019 is, benewens algemene navorsingsartikels, die volgende huldigingsbundels en spesiale kolleksies gepubliseer:

  • Faith Based Organisations, subredaksie Nadine Bouwers du Toit (SU), Vhumani Magezi (NWU) en Lisa le Roux (SU).
  • The Church in need of Change (agency), subredaksie Erna Oliver (UNISA).
  • HTS 75th Anniversary Maake Masango Dedication.
  • Engaging Schleiermacher today: South African perspectives, subredaksie Rian Venter (UFS).
  • Gender Justice, Health and Human Development, subredaksie Cheryl Potgieter (DUT).
  • Eben Scheffler Festschrift, subredaksie Jurie H le Roux (UP) en Christo Lombaard (UNISA).
  • The Legacy of James Cone, subredaksie Vuyani Vellem (UP).
  • Section Practical Theology, subredakteur Jaco Dreyer (UNISA).
  • Christina Landman Festschrift, subredaksie Wessel Bentley (UNISA) en Victor S Molobi (UNISA).
  • SASRF2019, subredaksie Cornel du Toit (UNISA – postuum) and Wessel Bentley (UNISA).
  • God as One, subredaksie Erna Oliver (UNISA) and Willem Oliver (UNISA).
  • The Online Educated Human: Teaching values, ethics, morals, faith and religion at a distance, subredaksie Ignatius Gous (UNISA).
  • Doing Theology with Children: Exploring Emancipatory Methodologies, subredaksie Stephan de Beer (UP Centre for Contextual Ministry) and Hannelie Yates (NWU). 
Share via
Copy link
Powered by Social Snap