Die wrede werklikheid van werkloosheid is oral om ons. Nou het ons egter ’n kans om ’n verskil te maak in ons land.

Die Hervormde Kerk is, saam met ’n aantal ander kerke en geloofsgebaseerde organisasies, nou al ’n paar jaar lank betrokke by die werk van die Motsepe-stigting. Op 24 Oktober 2019 het die Motsepe-stigting saam met 33 kerke en geloofsgebaseerde organisasies ’n nuwe fonds bekendgestel om werkloosheid te takel: die Motsepe Foundation and religious and faith-based organisations R100m job creation, skills and training fund.

Op die foto is van links na regs: Dr Gustav Claassen (Algemene Sekretaris, NG Kerk), aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk, dr Patrice Motsepe, ds Emmanuel Motola (Zion Christian Church) en dr Precious Moloi-Motsepe.

Ja, dis ’n lang naam. Maar dit is almal wat daarby betrokke is se droom om by wyse van hierdie fonds hoop te ontsluit vir duisende arm, werklose Suid-Afrikaners wat van die ekonomie en gemeenskap uitgesluit voel.

Die Motsepe-stigting verstaan dat daar geleenthede in die ekonomie is om werk te skep, maar dat baie daarvan aanvangskapitaal nodig het. Daarom skenk die Motsepe-stigting R100 miljoen, terwyl hulle ’n beroep doen op ander maatskappye, donateurs en individue om verder tot die fonds by te dra.

Die kerke se primêre taak is om die Woord van God te verkondig en voorbidding te doen vir ons land, maar gelowiges verstaan ook dat hulle God se liefde vir mense prakties gestalte moet laat kry deur daadwerklik ’n verskil aan mense se lewensomstandighede te maak. 

En mense in nood weet dat hulle wel nóú heel eerste kos op die tafel wil hê, maar dat hulle nie vir ewig van aalmoese afhanklik wil wees nie. Hulle soek na werkgeleenthede wat ’n volhoubare inkomste kan verseker, en werktrots en waardigheid daarmee saam.

Die plan is om die Motsepe-stigting se geld, die kerke se passie en kundigheid, en die werkloses se ywer by mekaar uit te bring. Dit word gedoen deur ’n adviesraad en ’n komitee vir volhoubare werkskepping daar te stel, wat aansoeke vir volhoubare werkskeppingsprojekte sal oorweeg en fondse vir goedgekeurde werkskeppingsprojekte beskikbaar sal stel. Die Hervormde Kerk en elk van die ander geloofsgebaseerde organisasies wys verteenwoordigers aan op sowel die adviesraad as die komitee, terwyl daar ook finansiële kundiges en regsgeleerdes aangewys sal word om toe te sien dat die beskikbare fondse behoorlik aangewend en geadministreer word.

Die fonds maak dit moontlik dat ’n kerk of gemeente wat ’n geleentheid identifiseer om volhoubare werk te skep, dit in ’n voorlegging volledig kan uiteensit. Dit kan wees dat ’n gemeente oor ’n stuk grond beskik wat tot dusver onbenut gelê het, en waarop daar ’n boerdery of bedryf gevestig kan word. Of dalk is daar in ’n gemeente lidmate met besondere kundigheid om opleiding te verskaf of tegniese vaardighede oor te dra waardeur werklose mense vir werk in aanmerking kan kom of hulself sal kan onderhou. Dan kan so ’n gemeente of kerk ’n voorlegging opstel om te verduidelik hoe die projek ontwikkel kan word, watter moontlikhede vir volhoubare werksgeleenthede dit open, en watter geld nodig is om die projek van die grond af te kry.

In die vorige eeu het die Hervormde Kerk sulke geleenthede in die boubedryf en drukkersbedryf raakgesien, en die NHW-Bouers en NHW-Pers op die been gebring. Talle jongmense het deur hierdie inisiatief van die Kerk vaardighede ontwikkel en ’n inkomste verdien.

Nou is hier weer so ’n geleentheid. Gryp dit aan!

 

*** Gemeentes en lidmate wat idees het vir lewensvatbare en volhoubare projekte, kan dr WC van Wyk, sekretaris van die Kommissie van die AKV, kontak.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap