Die Israelse Raad vir Oudhede (IAA) het in Mei 2020 bekend gemaak dat argeoloë onder die Westelike Muur en die aangrensende gebied, wat met die draai van die Christelike eeu nog ’n stadsplein was, ’n hele netwerk van ondergrondse gange en vertrekke gekry het.

Dié stelsel is onder die wit mosaïekteëls van ’n groot en indrukwekkende gebou uit die Bisantynse tyd ontdek nadat die vloer gelig is. 

Die ondergrondse ontdekking

Dié ondergrondse stelsel bestaan uit ’n binnehof en twee vertrekke met drie vlakke wat bo-op mekaar gebou is. Albei vertrekke se verdiepingsvlakke is verbind met trappe wat uit die sandsteenrots gekap is.

Volgens dr Barak Monnickendam-Givon en Tehila Sadiel, wat die hele argeologiese projek bestuur, is hierdie ’n belangrike ontdekking. Dit is die eerste keer dat vertrekke, en boonop nog ’n ondergrondse stelsel, met die Westelike Muur verbind word.

Dr Barak Monnickendam-Givon by die ondergrondse kompleks wat onder die Westelike Muur in die Ou Stad van Dawid ontdek is.
© 2020, Yaniv Berman/Israel Antiquities Authority

Olielampies wat onder die Westelike Muur gevind is.
© 2020, Credit: Emil Salman

Binne hierdie ondergrondse stelsel is ook kookgerei, olielampies en ’n sandsteenbeker gekry. Verder is ook ’n groot klipbak gevind waarin water geberg is. Sulke klipbakke is gewoonlik ingerig vir Joodse rituele gebruike.

Die ingang toon duidelike tekens dat dit eens met deure toegemaak was. Die deurskarniere en boute is nog duidelik sigbaar. In die mure is holtes sigbaar, wat as nissies vir olielampe gedien het.

Hoe oud die plek is, is nie seker nie. Die uitleg en bouwerk toon verskillende stadiums van argitektuur. Die klippe en stene waarmee die mure gebou is, is kenmerkend van die klippe wat rondom Jerusalem voorkom. Die invloed van die Romeinse boustyl uit die eerste eeu is duidelik sigbaar.

Gebruik van die kompleks

Dié plek, wat skaars 30 meter van die tempel geleë is, was beslis nog aktief in gebruik voordat die Romeine die stad in 70 nC verwoes het. Tot in daardie stadium is die Joodse leefwyse en rituele steeds aktief daar beoefen. Die inwoners van Jerusalem het kos en water daar geberg, en selfs kos daarbinne voorberei. Wat die ondergrondse drieverdiepingvertrekke is en waarvoor dit gebruik was, is nog nie seker nie.

Al wat wél seker is, is dat dit ’n openbare plek was in die omgewing waar die stadsplein van ou Jerusalem gefunksioneer het. Die vermoede bestaan dat die openbare pad enkele meter daarvandaan verbygegaan het. ’n Verdere vermoede is dat die groot brug wat die boonste deel van die stad met die tempel verbind het, waarskynlik daar gestaan het.

Nadat die Romeine Jerusalem in 70 nC ingeneem en verwoes het, is die Jode verbied om in die stad te kom. ’n Klompie dekades later het die Romeine die stad weer begin herbou. Vandaar die verskil in die boutekstuur van die kompleks.

Die Romeine het van stene gebruik gemaak om hul bouwerk te doen, terwyl die struktuur dieper ondertoe uit suiwer klip gebou is. Die mense in ou Jerusalem het meestal gebly in huise wat van klip gebou is. Die struktuur wat ondergronds gebou is, het ’n besondere vaardigheid vereis wat anders is as wat van die Romeinse boutegnieke bekend was.

Argeoloë reken dat daar nie binne die volgende 20 tot 30 jaar ’n aanduiding verkry sal kan word waarvoor dié ondergrondse struktuur gebruik is nie. Selfs oor die gebruik van die Bisantynse gebou wat bo-oor die struktuur gebou is, bestaan daar groot bespiegeling. Van die moontlikhede wat steeds ondersoek word, sluit in dat dit as ’n kelder kon dien vir kosberging, óf moontlik as ’n woonplek vir tempelwagte, óf selfs as potensiële skuilplek in tye van gevaar.

Die drie kamers wat bo-op mekaar gebou is, is onderskeidelik op die boonste vlak 2,5 m x 4 m groot, terwyl die middelste en onderste vertrekke 2,5 x 2,5 m groot is.

Geen aanduiding bestaan ook of dié geboue vir ’n godsdienstige doel of as ’n openbare plek gebruik is nie. Al wat wél seker is, is dat die kompleks tydens ’n massiewe aardbewing gedurende die 11de eeu inmekaar gestort het. Argeoloë ondersoek die moontlikheid dat daar ook nog ander gange en vertrekke in die onmiddellike omgewing kan wees.

Die tempelberg het ’n lang godsdiensgeskiedenis wat deur verskeie beskawings gelaat is. Enige van hierdie groepe kon ’n invloed gehad het op die kompleks wat onder die Westelike Muur gevind is. Dit sluit die Jebusiete Israeliete, Babiloniërs, Grieke, Perse, Romeine, die Bisantyne en vroeë Moslems in.

Die feit dat die tempel skaars 30 meter daarvandaan geleë is, maak die opgrawingswerk soveel meer opwindend.

 Hooffoto: Die tonnelnetwerk wat tydens opgrawings onder die markplein van die Westelike Muur gevind is.

© 2020, Credit: Emil Salman

af
af
Deel met behulp van
Copy link