Soos ’n predikant elke Sondag die eeueoue Bybelse boodskap opnuut met die beste moontlike teologiese insigte en tegnologie moet oordra, so behoort die Kerk vir elke nuwe generasie met die benutting van die beste, nuutste insigte op alle relevante terreine kategesehandleidings te skep. Die skep van kategesehandleidings vir die Kerk behoort nooit op te hou nie.

In my kinderjare (1945-1959) het kategese (Bybelse onderrig van kinders) in die Kerk aan die agterspeen gesuig. Op die platteland waar ek opgegroei het, was daar geen kategese by die kerk nie. Die ouers het die Sondagskoolboekie Laat my lammers wei ontvang, en hulle moes toesien dat hul kinders elke Sondag ’n teksie uit die Bybel memoriseer. Wanneer dit by belydenis van geloof kom, het die kinders vir so bykans 14 dae onderrig by hoofsaaklik die predikant ontvang.

Oor die algemeen is kategese toe Sondagskool genoem. Dit is nie beskou as amptelike werk van die Kerk nie. Op baie plekke is dit deur die een of ander onderwyser met ’n “goeie hart” by ’n skool of ’n huis aangebied vir al die kinders van al die kerklike denominasies in die omgewing. So onder andere is dit in Newlands, Johannesburg in 1969 in die laerskool aangebied deur ouers en onderwysers uit verskillende kerklike denominasies. Hulle het selfs hul eie afsonderlike bankrekening gehad, geregistreer as “Newlands Sunday School Union”.

In 1963 is prof JI de Wet by die Teologiese Fakulteit van ons Kerk aangestel. Hy was ons eerste dosent in Praktiese Teologie, die eerste persoon wat kategetiek as vak gedoseer het. Hy en ander predikante en lidmate het begin verkondig dat kategese kerkwerk is, ’n wesenlike bediening van die Kerk aan die jeug van die Kerk.

Kritiek op die kategese van die Kerk het met die tyd saam gegroei. Drie kategeseboeke is in die laat 1970’s in ons Kerk gebruik, naamlik Bybelgeskiedenis van JC le Roux en JI de Wet; Geloofsleer van HG van der Westhuizen en GC Veldhuizen; en Kerkgeskiedenis van AD Pont. Na inhoud en vorm is dit so aangebied dat die klem feitlik geheel en al geval het op die kognitiewe. Die “kop” was alles, die hart en die hand feitlik niks. ’n Goeie katkisant was iemand wat byvoorbeeld die kinders van Jakob in die regte volgorde kon opnoem, teksverse uit die Bybel en formulerings uit Geloofsleer kon memoriseer, en verder kon opnoem wanneer sekere gebeure in die geskiedenis plaasgevind het.

In 1979 het ’n radikale verandering met betrekking tot die kategese plaasgevind. Die Algemene Kerkvergadering het besluit dat intensief aandag gegee moet word aan die kategese van die Kerk. Met die oog op die verbetering van die kategese is daar onder andere besluit om ondersoek in te stel na die moontlikheid om insigte van die opvoedkunde, sielkunde, didaktiek en ander wetenskappe te benut.

Om hierdie besluit tot uitvoer te bring, is ek voltyds by Kital (die Kerk se instituut vir die toerusting van ampsdraers en lidmate – later SENTIK) as direkteur aangestel. Prof PA Geyser, toe ook werksaam by Kital, kry ook die opdrag om die helfte van sy tyd te bestee aan kategese. Uit die geledere van die dosente word uit elke teologiese dissipline iemand benoem om in ’n kategese-ondersoekkomitee te dien. Die volgende persone is benoem: Ou Testament prof Andries Breytenbach; Nuwe Testament prof PA Geyser; Dogmatiek prof GC Veldhuizen; Sendingwetenskap prof Piet van der Merwe; Kerkgeskiedenis prof Schalk Botha; en Praktiese Teologie prof MJ du P Beukes. Naas die teoloë is ook sielkundiges en opvoedkundiges benoem, onder andere dr Millie Olivier, prof Hannes van Dyk, mej Frieda Wilken en Jerry Botha.

Die eerste vergadering van hierdie komitee het plaasgevind op 1 Maart 1980 in die Blou Saal van die Van der Hoffgebou. Nog nat agter die ore word ek gekies as voorsitter van die komitee.

Watter verskriklike vergadering!

Die teoloë sit almal links van my. Die sielkundiges en opvoedkundiges regs.

Die teoloë en die res verskil hemelsbreed van mekaar. Die verskillende groepe se opvattings het onversoenbaar geblyk te wees. Die predikante het bly vaskleef aan die gedagte dat jy net die inhoud moet oordra, die inkleding maak nie saak nie, die Heilige Gees sal die werk doen.

Na ’n dag en ’n half se vergader het ons onverrigtersake uitmekaar gegaan.

Die komitee het maande lank worstelend gesoek na ’n pad vorentoe.

Ons het uiteindelik afgekom op die proefskrif van ’n didaktikus, RA Kruger, wat pas sy doktorsgraad voltooi het oor die kurrikulumteorie. Kruger se insigte en leiding het gehelp dat ons as teoloë en ander wetenskaplikes ’n vertrekpunt kon vind met sy kurrikulumteorie, in gewysigde vorm. Dit het gedien as basis vir die kategeseboeke wat daarna geskryf is. Vir elke jaargroep is ’n teoloog en ’n sielkundige/opvoedkundige/onderwyskundige aangewys om die lesse op te stel.

Vanaf 1981 tot laat in die 1990’s is met groot ywer gewerk aan die nuwe kategeseboeke. Die eindproduk: ’n kategeseboek vir elke jaargroep van graad 1 tot die belydenisklas; drie boeke vir voorskoolse kinders; ’n boek vir volwasse kategese; en ook ’n boek vir leergestremdes. In alle gevalle is ’n boek vir die kind en ’n boek vir die onderwyser geskryf. As ons alles bymekaar tel: 28 boeke – ’n hele boekrak vol. ’n Monumentale werk. Van oral was daar positiewe kommentaar oor die inhoud en die vorm. ’n Unisa-professor in didaktiek het oor die graad 10-boek onder andere gesê: Die beste in Afrikaans. So ver vasgestel kon word, het feitlik elke gemeente van die Kerk die boeke met groot entoesiasme begin gebruik.

Aan die ander kant: Nouliks was die boeke in gebruik of die kritiek het begin inrol. Daar was enkele in die Kerk, soos feitlik altyd, wat die boeke geheel en al verwerp het. Hulle het geoordeel: Na vorm en inhoud is dit nie tradisioneel nie, die belydenisskrifte kom nie tot hul reg nie, die Kerkgeskiedenis is afgewater, al die Bybelse inhoude is nie voldoende gedek nie.

Na 20 jaar het die kritiek al hoe meer geword. Nou was dit egter relevante kritiek waarna geluister kon word. Van die vernaamste was: Die moderne tegnologie is nie voldoende benut nie; die ouers is nie voldoende betrek in die leerproses nie; baie lesse is te omslagtig; baie lestemas is nie relevant vir die 20ste eeu nie, baie relevante geloofsake wat die alledaagse lewe van vandag raak, word nie gedek nie…

Die Kerk het geluister na die kommentaar. Nuwe boeke is geskryf onder leiding van my broer, dr Hannes Beukes. Skitterende werk. Groot opofferings. Groot verbetering op die vorige boeke. Die geïdentifiseerde probleme is in ag geneem. Nouliks verskyn die laaste boek of die kritiek is weer daar. In ’n groot mate dieselfde as 20 jaar gelede. Dit moet nie gesien word as ’n negatiewe vingerwysing nie.Dat hierdie kritiek kom, is vanselfsprekend. Dit is eintlik verblydend. Dit is ’n bewys dat die Kerk nie wil stagneer nie.

Die Kategeseboekekommissie, wat die afgelope jare verantwoordelikheid geneem het vir die herskryf en opdatering van die boeke, het deurgaans aandag gegee aan die kritiek uit enkele gemeentes in die Kerk, maar was self ook besig met inisiatiewe om die handleidings byderwets en bruikbaar vir die Kerk te hou. Verreweg die meeste navorsingswerk en hersieningswerk is deur Hannes as voorsitter gedoen.

Hy was ook feitlik eiehandig verantwoordelik vir die opstel van ’n nuwe handleiding vir gebruik deur volwasse katkisante. Dié handleiding is gebaseer op ’n innoverende werkwyse en is iets waarop die Kerk trots kan wees. Daar lê ’n pynlike stuk ironie daarin opgesluit dat hierdie handleiding aan die Kerk bekendgestel is presies op die dag van Hannes en sy vrou, Ibel, se tragiese afsterwe.

Die Kerk is dankbaar vir almal wat hulle oor jare beywer het vir goeie kategeseboeke vir ons kinders. Vanaf 1979 was daar ’n groep predikante en opvoedkundiges wat saam met my en Hannes met groot ywer en entoesiasme daaraan gewerk het. Hier word onder andere gedink aan di Etienne Fourie, Jan van Staden, Adriaan Roets, Martin Slabbert en die opvoedkundiges Frieda Wilken en prof Erna Prinsloo.

Die volgende stap sal wees om die beskikbaarstelling van die handleidings in elektroniese formaat te ondersoek. Hannes was besig met hierdie ondersoek, maar kon dit ongelukkig nie afhandel nie. ’n Volgende moontlikheid is dat aanbieders kategeselesse op video opneem en op die platform van GLOmedia.tv beskikbaar stel. Dit is ’n subskripsiekanaal waar ’n mens toegang kan kry tot beeldmateriaal met ’n Christelike inslag. Hierdie ondersoek geniet tans aandag.

So sal die Kerk bly dink, werk, innoveer en bid om die kosbare werk om die kinders van die Kerk geestelik te vorm, so goed moontlik aan te hou doen.

af
af
Deel met behulp van
Copy link