Ons is almal bang vir verandering en vir wat verandering in die toekoms vir ons inhou, veral na Covid-19. Tog het elkeen van ons iets in ons lewe wat ons graag sal wil verander, byvoorbeeld sekere gedagtes, gevoelens en gewoontes. Almal wens hulle kan anders wees, of selfs iemand anders wees.

Kom ons neem ons besluitnemingsproses as voorbeeld: Ons skryf dit neer en vertel ’n vriend of familielid; lees selfhelpboeke daaroor; of luister na kundiges se gesprekke oor die onderwerp. Na ’n paar maande ontdek jy dat daar nog geen vordering gemaak is nie. Alles is vergete en terug na normaal.

Of…

Jy het wel jou doelwitte bereik. Na ’n rukkie raak jy bewus daarvan dat dinge stadig maar seker terugbeweeg na hoe dit tevore was (backsliding). Asof geen verandering plaasgevind het nie. Dan dink ons verandering is baie moeilik!

Tog vind verandering daagliks rondom ons plaas. Dink net hoe vinnig die tegnologie verander. Ons moet elke twee jaar ons selfone vervang omdat die tegnologie soveel verbeter het. Dink net hoe gereeld die toepassings (apps) op jou selfoon verander of opgegradeer word. In die werkomgewing is daar voortdurende (her)opleiding vir dit waarvoor ons opgelei is – die sogenaamde CPD (Continuous Professional Development) of VBO (Voortgesette Beroepsontwikkeling). Verandering is eintlik die enigste sekerheid in ons lewe. So glo ons, en tog is dit ’n ander saak om self te verander.

As ons mooi daaroor dink, is verandering seker een van die natuurlikste dinge onder die son. Kyk na jouself; jy sien dit in jou eie lewe. Jy het verander van ’n baba na ’n volwassene. Jou fisiologie het verander.

Onlangs het jy dinge maklik verander. Jy het nie eens daaraan gedink as verandering nie. Jy het net ontdek dat jy dinge nou anders doen as voorheen. As ’n mens só daaraan dink, is verandering nie iets wat lank neem om te gebeur nie. Dit gebeur skielik. Jy het vir jare jou tyd voor die TV verwyl, en toe besluit jy om jou tyd beter te benut deur iets beters te doen, byvoorbeeld deur ’n nuwe stokperdjie, soos fietsry, aan te pak.

Ons kan nie glo dat verandering so vinnig kan plaasvind nie. Gewoonlik meet ons die sukses van verandering aan die tydperk wat dit geduur het om te verander, al die opofferings en moeilikhede daaraan verbonde. No pain, no gain. So asof pynlike ervarings in ons lewens ’n wins is. As dit waar was, sou ons mos na pynlike dinge gesoek het en nie daarvan probeer wegkom het nie.

Hoe kan ons makliker verander?

Die menslike brein kan met ’n rekenaar vergelyk word. Ons gedagtes, gevoelens en dade is die sagtewareprogramme. Dink net: As ons dié programmatuur kan verander of opgradeer (update) soos wat met apps-sagteware gebeur, sal ons dadelik positiewe verandering in ons prestasie kry. Om dit reg te kry, moet ons net nuwe bevele (updates) tot ons huidige apps toevoeg, daar waar dit nodig is.

Die mens is die enigste superrekenaar wat hergeprogrammeer word met ongeskoolde arbeid. En wat meer is, die mens het nie ’n instruksiehandleiding (manual) nie.

Die tegnologie wat ek gebruik, kan jou help om jou apps op te gradeer (update).

Die mens se beperkinge is in die apps of sagteware en nie in die hardeware nie. Die mens dink maklik hy is só gemaak en só laat staan. Ons kan nie verander nie. Of: You can’t teach an old dog new tricks. As mense nie hul apps of sagteware kan verander nie, begin hulle verskonings maak.

Elektrisiteit verskaf energie aan ’n verskeidenheid van toerusting, soos televisies, rekenaars, tablette, ensovoorts. Dit wat jy dínk, verander jou gevoel, en jou gevoel verander jou dade. Dit is die verskil. Met die tegnologie wat ek gebruik, kan gedagtes, gevoelens en gedrag verander en kan nuwe sagteware bygevoeg word wat net so deel van die self word as die reeds bestaande sagteware. Die doel is om mense doelbewus meer bewus te maak van dit wat hulle onbewustelik doen. Ek werk met die mens se verwysingservaring, en die studieveld is gevolglik die menslike brein.

’n Praktiese voorbeeld: Dink aan ’n pretpark en ’n keer toe jy op die wipwaentjies gery het. Verbeel jou nou jy kyk vanaf ’n afstand na so ’n rit, miskien vanaf ’n bankie in die pretpark. Van hier af kan jy jouself sien daar ver in die wipwaentjie. Let op die gevoelens wat jy ervaar noudat jy so na jouself sit en kyk.

Goed. Klim nou in die waentjie – jy voel hoe hulle die veiligheidsreling oor jou skoot toemaak. Die waentjie ruk in beweging; jy sien hoe alles eers stadig en dan al hoe vinniger by jou verbyflits. Jy hoor hoe skreeu almal om jou. Let op die gevoel noudat jy weer hierdie ervaring beleef.

Die ritgevoel is ’n totaal ander ervaring as die een waar jy net na jouself van ’n afstand af gesit en kyk het. Hierdie ervaring is waarmee ek werk.

As jy dus opgewonde wil wees oor iets, behoort jy fisies en geestelik betrokke te raak. Jy moet dus ín die ervaring inklim. Ek kan jou leer om presies dit te doen, waar en wanneer jy wil.

Dink nou aan ’n baie goeie, aangename ervaring – ’n genotvolle oomblik in jou lewe. Dit moet iets wees wat jy regtig geniet om aan te dink, byvoorbeeld jou eerste soen. As jy daardie oomblik het, let op die gevoel wat daarmee gepaardgaan. Bring die ervaring nader aan jou, maak dit groter, helderder en baie kleurvol. Let nou op jou gevoel – laat hierdie ervaring verder van jou af wegbeweeg, kleiner, dowwer en sonder kleur, totdat dit ’n entjie van jou af is, so groot soos ’n SIM-kaart. Let op jou gevoel nou… goed, bring dit terug soos jy dit graag wil onthou.

Wat het gebeur?

Julle het agtergekom dat die aangename gevoel sterker word as die ervaring naby jou is, en die gevoel word swakker as die ervaring verder van jou af is. Niemand van julle het gedink jy kan jou gedagtes en gevoelens so maklik en vinnig verander nie.

Doen dieselfde met ’n baie negatiewe ervaring.

Net soos ervaring, is taalpatrone ook belangrik. ’n Mens hoor so dikwels in ’n gesprek dat mense sê: Moenie bekommerd wees nie! Of: Moenie aan die aanvaller met ’n AK47 dink nie! Wat gebeur as jy die volgende hoor? Moenie aan die aanvaller met ’n AK47 dink nie! Ten spyte van wat gesê word, dink ’n mens onwillekeurig juis aan daardie aanvaller met ’n AK47-geweer. Volgens Steve Andreas gebeur laasgenoemde omdat die brein nie weet hoe om iets in negatiewe taal te verwerk en te hanteer nie. Voordat die brein weet wat om nié te dink nie, moet dit juis eers wel daaraan dink. Daarom gebeur dit so dikwels dat ’n mens dink aan dit wat jy nie wil doen nie, en dan doen jy juis net dit. Dink eerder aan dit wat gedoen moet word. In plaas daarvan om jou nie te bekommer nie, let eerder op die geleenthede wat daar is. Of hoe ’n mens gereed kan wees vir ’n sekere uitdaging. So leer die brein wat die persoon in die plek daarvan wil hê, en word die brein voorberei om dit wat as die ideaal gestel is, te bereik.

Julle sal saamstem dat hierdie beginsels anders funksioneer as dié van die tradisionele sielkunde of psigologie. Gewone psigologie stel meer belang in die beskrywing van probleme of afwykings en in die kategorisering daarvan, en is op soek na historiese oorsake. Hierdie positiewe tegnologie is geïnteresseerd in hóé ’n mens se gedagtes, gevoelens en gedrag saamwerk om aan die menslike ervaring betekenis te gee. In kort, hoe werk die brein?

As ’n mens voortdurend dieselfde gedagtes, gevoelens en gedrag herhaal, sal jy aanhoudend dieselfde resultate kry. Indien jy beter resultate wil hê, moet jy dus net jou gedagtes, gevoelens en gedrag binne die bepaalde konteks verander. Die mens is geneig om meer te reageer op die kaarte van die wêreld wat ons in ons koppe het, as op die wêreld self. Onthou, breinkaarte en veral gevoel en interpretasies kan makliker opgegradeer word as wat die wêreld kan verander.

Die mens leef in harmonie met sy omgewing deur middel van sensoriese sintuie, naamlik sien, hoor, voel, ruik en proe. Elke mens het ’n eie dominante voorkeursintuig (modaliteit) waarmee inligting ingesamel en met die omgewing gekommunikeer word. Sommige sal ’n visuele voorkeur hê, terwyl ander weer ’n ouditiewe voorkeur het.

Menslike inligtingprosesseringsgedrag kan met hierdie skets (schematic diagram of human behaviour) saamgevat word:

’n Eksterne situasie of gebeurtenis word eerstens ontvang deur die sensoriese sintuie en word dan deur ’n interne proses in ervaring omgeskakel. Dit beteken dat ’n simulering van die situasie of gebeurtenis wat sekere gevoelens – positief of negatief – laat ontstaan, in die brein geskep word.

Ek volg ’n alternatiewe benadering wat op ’n ander manier na die menslike brein en gedrag kyk; dit vra nuwe vrae wat nuwe antwoorde stimuleer. Neurolinguistiese Programmering (NLP) werk met nuwe voorveronderstellings wat nuwe moontlikhede genereer: As die huidige plan nie werk nie, maak ’n ander plan! Daar is geen mislukkings nie, net terugvoer.

Veronderstellings

  • Ervaring is gestruktureerd. Ons gedagtes en geheue het bepaalde strukture. As daardie struktuur verander, sal die ervaring outomaties verander. Daarom kan die mens ongemaklike herinneringe neutraliseer en goeies tot eie voordeel gebruik.
  • As een persoon ’n bepaalde ding kan doen, kan enige persoon geleer word om dit ook te doen. Dus kan ’n persoon ’n suksesmodel sy of haar eie maak. ’n Goeie sportman in ’n bepaalde sportsoort kan in enige sportsoort uitblink.
  • Die brein en liggaam is dele van dieselfde stelsel. Mense kom in pakkies. Ons gedagtes het ’n direkte invloed op ons spiere, asemhaling, gevoelens, ensovoorts. Omgekeerd beïnvloed dit ons gedagtes of denke. Dus, as ons geleer het om een te verander, kan ons ook die ander een verander.
  • Mense het reeds al die nodige hulpbronne. Geestesoë, stemme binne jou en gevoel is die basiese boustene van ons geestelike en fisiese hulpbronne. Deur dit te gebruik, kan ons enige gedagte, gevoel of vaardigheid bou wat nodig is.
  • Niemand kan NIE kommunikeer nie. Die mens kommunikeer gedurig, veral nie-verbaal. Daarom is woorde gewoonlik die minder belangrike deel van kommunikasie. Jou gedagtes is ’n kommunikasie met jouself. Tog openbaar ons dit aan ander deur ons oë, stemtoon, postuur en liggaamlike bewegings: 7% met woorde; 39% met toonhoogte, tempo en ritme van die stem; en 54% fisiologies (liggaamshouding, oogkontak, gesigsuitdrukking, aanraking, asemhaling, ensovoorts). Dit gaan nie net oor wat jy sê nie, maar hoe jy dit sê.
  • Die betekenis van jou kommunikasie is die reaksie wat jy ontvang. Ander mense ontvang wat ek sê en hoe ek optree deur hul eie breinkaart van die wêreld. Kommunikasie het betekenis in dit wat ontvang word.
  • Mense maak altyd die beste beskikbare keuse. Ons het geleer wat ons wil hê en hoe ons dit wil hê, wat vir ons belangrik is en wat nie. Dit is ons eie verwysingservaring. Vanuit hierdie verwysingservaring maak ons al ons keuses, totdat nuwe en beter keuses beskikbaar is.
  • As iets nie werk nie, doen iets anders. Doen enigiets anders. As jy iets nuuts wil hê, moet jy iets nuuts doen, veral as daar verskillende alternatiewe is.

Die benadering wat ek volg, is realitief nuut. Dit kyk op ’n nuwe manier na die menslike brein en gedrag. Daar word nuwe vrae gevra wat nuwe antwoorde stimuleer. Ek werk met nuwe veronderstellings wat nuwe moontlikhede genereer. Onthou, veral in ’n bemarkings- of verkope- omgewing, is niemand verkeerd nie. Elkeen van ons het net verskillende maniere om met ander in die wêreld oor die weg te kom. Die verstaan van hierdie verskille lei gewoonlik tot ’n wen-wen-verhouding. Met klein aanpassings kan ons mekaar beter verstaan en verandering beter hanteer.

(Dr Bester is ’n internasionaal geakkrediteerde NLP-praktisyn geëndosseer deur die Noordwes-Universiteit se Departement Sielkunde)

af
af
Deel met behulp van
Copy link