’n Man het sy 80-jarige buurman dopgehou terwyl die buurman besig was om ’n klein perskeboompie te plant. Jy verwag seker nie om perskes van daardie boompie te eet nie? vra hy vir die bejaarde man. Die oubaas rus op sy graaf en antwoord: Nee, op my ouderdom is dit onmoontlik. Maar ek het my lewe lank goeie perskes geniet – nooit van ’n boom wat ek self geplant het nie. Ek is net besig om dankie te sê vir al die perskes wat ek kon geniet.

In die hedendaagse tyd waar koudheid, onbetrokkenheid en onbegrip vir mekaar mure van verwydering veroorsaak, is dit nodig dat ons weer opnuut moet kyk na die implikasies van die liefdesgebod: Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Om ’n vrou te wees wat ander verstaan, moet ’n mens jouself eers aanvaar, verstaan en liefhê. Dan kan jy as heel mens uitreik na ander.

Dit het noodsaaklik geword dat daar in die samelewing en kerk hard gewerk word aan ’n gesindheid van begrip vir mekaar. Ons almal is mense met verskillende persoonlikhede, talente en standpunte, met goeie en swak eienskappe. Laat ons dit respekteer en mekaar nie oordeel nie en nie oor mekaar struikel nie.

Ons as vroue het dus ’n oneindig belangrike taak om te vervul, want ons het ’n fyn aanvoeling vir die nood van ander. En met warmte, deernis, opregte meelewing en empatie kan ons ’n hand uitsteek na ander. Kom ons begin weer soos vroue van ouds om almal wat oor ons pad kom, te groet. Hetsy met ’n vriendelike glimlag, ’n vrolike handwuif, erkentlike kopknik, ’n lawwe toeter of flitsende hoofligte.

Reik uit na jou man, omdat die druk om te presteer in vandag se samelewing onmenslik hoog geword het. Wees jy die rustige, veilige, kalm hawe te midde van stormwaters. Die plek waar hy kan kom anker en moed skep om die wêreld te verower.

Maak jou arms wyd oop vir jou kinders. Vir ons met klein kindertjies is dit nog so maklik. Maar ons volwasse kinders het ook nog ons omgee, uitreik en drukkies nodig.

Steek jou hand uit na jou ouers wat meer en meer van jou afhanklik word, nie net emosioneel nie, maar ook fisies.

Besoek daardie ouma of tante wat so smag na geselskap. Skryf ’n briefie, maak ’n oproep, géé van jouself en jou tyd, nie net van jou goed nie.

Maak weer kontak met daar ou skool- of kollegevriendin met wie dit so swaar gaan. Sy het jou ondersteuning en opregte belangstelling nou baie nodig.

Gaan drink ’n koppie tee by daardie vriendin wat jy langs die pad verloor het. Wees groter as menslike verskille, en wees ’n goeie advertensie vir die ware liefde van Christus.

Wees barmhartig. Ja, ook teenoor jou huishulp wat onder moeilike omstandighede haar weg oopsien om jou huis en haard soos haar eie te versorg. Gesels met haar en met jou tuinier oor ons land, sy mense en probleme, en moedig hulle aan om ook daarvoor te bid.

Reik uit na die eensames, siekes, teleurgesteldes en ontnugterdes. ’n Vrou moet soos ’n koel kruik wees wat so vol is van God se genade dat sy kan oorloop daarvan en ook vir ander op haar lewenspad kan skink en hulle verkwik.

Dan kan ons wees soos Phil Bosmans sê: Waar mense in liefde weer vir mekaar mens word, groei die hemel nader na die aarde toe. God het nog altyd sy liefdevolle hand uitgestrek na jou. Hy is en was en sal altyd daar wees. Hy reik uit na jou … gaan jy sy hand vat?

Ek is vandag dankbaar vir voorgeslagte wat vir soveel jare al perskebome geplant het waarvan ek nog daagliks kan geniet, voorgeslagte wat gemeentes gestig en kerkgeboue opgerig het waar ek my lewe lank nog net kon ontvang, en voorgeslagte wat hul saak met die kerk en die God van ons Kerk ernstig opgeneem het sodat ek nog nooit geestelik honger of bang of vervolg moes wees nie.

Daarom, kom ons begin vandag en plant ook perskebome van dankbaarheid…

Louis Peter het eendag geskryf: Niemand is te groot om dankie te sê nie, maar party is te klein. Kom ons wees groot en maak hierdie ons jaar van groot dankbaarheid.

Dankbaarheid vir ’n gesin, goeie gesondheid, gewaardeerde vriende…

Dankbaarheid vir geloof, ’n gemeente en ’n kerkgebou…

Dankbaarheid vir vroue wat 80 jaar gelede die NHSV gestig het, groot treë vorentoe gegee het; in gemeentes, gemeenskappe en die Kerk hul deel gedoen het en ’n positiewe verskil gemaak het.

Dankbaarheid vir geestelike versorging en die verwagting van ’n Ewige Tuiste.

Sekretaris van die NHSV Hoofbestuur en predikantsvrou Gemeente Marble Hall

af
af
Deel met behulp van
Copy link