Jesaja 7: 1-14; Matteus 1: 23
Staan God op ’n afstand en kyk na wat met ons gebeur? Die vraag is miskien eeue oud, maar steeds relevant. God bly nie iewers daarbo nie. Hy hou ons nie maar net dop van ver af nie. Hy is Immanuel. God by ons.
So sê God wanneer Hy belowe dat Hy vir Koning Agas, wat ’n krisis met sy bure beleef, ’n teken gaan gee. Daardie teken is ’n vrou wat swanger sal word en ’n seun in die wêreld sal bring, en sy sal hom Immanuel noem. God by ons. God sê vir Agas om nie bang te wees nie. Agas moet hom nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van die vyand nie. Maar Agas steur hom nie aan die teken wat God vir hom gee nie (Jes 7: 12). Die eie ek is in beheer, die bedreiging naby. Dit noodsaak Agas om witvoetjie by Assirië te gaan soek. Sy vrese veroorsaak dat hy God se hulp en sorg van die hand wys. Agas plaas sy vertroue in mense, eerder as op die lewende Almagtige God, en hy soek kitsoplossings.
Laat Agas se optrede ons nie aan onsself dink nie? Soms maak ons ook benoude spronge en probeer ons op eie houtjie die bedreigings in ons lewens hokslaan. Ons wil nie saam met die Here waag nie! Ons is so besig met ons eie pogings om probleme op te los, dat ons God se belofte wat waar geword het, ignoreer. Ons vergeet in krisistye en soms ook in goeie tye van die engel se woorde wanneer hy Jesus se geboorte aankondig in Matteus 1: 23.
Kom ons herinner mekaar aan Immanuel, God by ons, en vergeet van eie planne maak, gevul met ongeloof. Advent roep ons op om na te dink oor Immanuel. Hy is die Heilige wat by sy mense wil woon, wat die hele wêreld sy tempel wil maak. Dit roep ons op tot volle oorgawe en toewyding aan Christus. Hy is God met ons – Hy, Immanuel.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos