Gedurende die grendeltydperk, te midde van ’n groot bedreiging wat alle menslike verstand wêreldwyd te bowe gaan, het ek gesien dat daar in wanhoop na Bybelversies gegryp word.

Baie gedeeltes word wel “herontdek” en van nuuts af ontgin om ’n toepassing te vind vir ons huidige omstandigheid en om hoop te gee. Dit kan egter ook gebeur dat jy die Bybel op ’n sekere plek oopslaan en vir jouself sê: Maar dit help my nou niks in my desperaatheid gedurende hierdie tyd nie. Dit geld sekerlik veral vir die mense wat nou sonder werk en inkomste sit. Die ontmensliking daarvan is onbepaalbaar. Almal is ook bekommerd oor die langtermynskade wat hierdie toestand vir ons land gaan agterlaat.

Die stukkie wat vandag oor my pad gekom het, het my so laat voel. Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My (Lev 25: 23). Die gedeelte hoort tot die antieke tyd en het tog niks met ons te doen nie. Tot iets my opgeval het en ek weer gaan kyk het na die historiese agtergrond en betekenis daarvan.

Ons almal het al ’n bietjie verward gestaan voor die onuitvoerbare voorskrifte in Levitikus 25. Dit gaan oor die sabbatsjaar en die hersteljaar. Dit werk tog nie meer so in ons moderne tyd waar ’n stuk grond wettiglik op iemand se naam geregistreer word nie? Sê wie! Al ooit gehoor van “onteiening sonder vergoeding”? Dit net terloops.

Die kern van hierdie gedeelte is dat ’n eienaar in ou Israel nooit permanent die eienaar van ’n stuk grond kon word nie. Elke sewe jaar moet dit terugval na “die oorspronklike eienaar”. Hoe stel ’n mens vas wie die oorspronklike eienaar was? Daar was nie skriftelike rekords nie! Geleerdes is dit nie eens op hierdie punt nie, maar die onderliggende beginsel wat hier geld, die onbetwisbare feit, is dat alle grond in Israel aan God behoort het. Die grond moet dus na God toe terugval sodat Hy daarmee kan doen wat Hy wil.

God het besluit dat alle grond in Israel in ’n siklus van sewe jaar vir ’n jaar lank braak moet lê. Geen aktiwiteite mag plaasvind nie, geen bewerking, dus geen oes nie. By implikasie hongersnood. Die rede hiervoor? Die grond moet “herstel”. Die natuur moet sy loop neem en die grond moet gesond word van alle moontlike pestilensies. Dit moet weer put uit sy eie natuurlike bronne sonder die tussenkoms van menslike besluite. Dit is ’n logies aanvaarbare en wetenskaplik regverdigbare feit. Hierna sou God weer sorg vir ongekende vrugbaarheid op dieselfde grond. Hierdie beginsel stem ooreen met God se belofte aan die volk dat Hy hulle sal versorg. Al wat Hy vra, is gehoorsaamheid.

Dit het ook meegebring dat mense geweet het om elke sesde jaar dubbel so hard te werk en ’n dubbele oes in te samel om hulle deur die jaar van geen inkomste te sien. Sou Hy  hiermee kon bedoel dat die mense ook moes rus?

Ons weet ook dat die voorskrifte in die wettiese literatuur van die Bybel as “landswette” beskou is en dus afdwingbaar was.

Die boodskap van hierdie gedeelte wat oënskynlik nie vir ons bedoel is nie, is een van geloof. Die volk sou onvoorwaardelik moes glo dat God in hul oorlewingsbehoeftes sou voorsien terwyl hul grond (en hulle self) vir ’n volle jaar “rustend” lê. Dit moes blindelingse selfdissipline en vertroue geverg het. Dit beteken dat hulle ook moes glo dat elke sesde jaar telkens ’n dubbele oes sou oplewer, en dat hulle nie moet begin wanhoop nie. As die grond dus gerespekteer en reg hanteer word, sal dit ook gunstig respondeer!

Daar word van ons verwag om ons land se wette te gehoorsaam, al lyk hulle hoe onregverdig. Dis soms moeilik om die ratio agter die instelling daarvan in te sien uit ons menslike oogpunt.

Vertrou soos die ou Israeliete maar net op die Here se wil in hierdie tyd. Die beloning sal dalk na hierdie “rusjaar” dubbel so oorvloedig wees.

af
af
Deel met behulp van
Copy link