Matteus 27: 62 – 28: 15
Julle moet sê: “Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.” (Matt 28: 13)
Matteus is die enigste skrywer wat ons vertel van die spesiale reëlings wat die priesterhoofde en die Fariseërs met Pilatus tref, om die graf van Jesus te bewaak. Hulle is bewus daarvan dat Jesus gesê het dat Hy op die derde dag gaan opstaan uit die dood. Omdat hulle nie glo dat Jesus die Seun van God is nie, dink hulle vir geen oomblik dat Jesus sal opstaan nie, maar hulle is wel bang dat die dissipels Jesus se liggaam sal steel.
Terwyl die vroue gaan om die dissipels te vertel dat Jesus opgestaan het en lewe, kom die wagte wat intussen tot verhaal gekom het by die priesterhoofde en familiehoofde en vertel hulle wat gebeur het. Die graf is oop en leeg. Die priesterhoofde en familiehoofde besluit die beste oplossing vir hierdie probleem is om die wagte om te koop, te betaal om die storie te versprei dat Jesus se dissipels Jesus se liggaam gesteel het terwyl die wagte geslaap het.
Hou in gedagte dat die priesterhoofde en die familiehoofde as gevolg van hul posisie in die samelewing die mense was wat inligting in daardie tyd deurgegee het. Wat hulle gesê het, was soos dit is. As hulle sê dat Jesus se graf leeg is omdat die dissipels Jesus se liggaam gesteel het, word dit aanvaar as die verklaring van die gebeurtenis. Daar is nie soos in ons tyd maniere om die inligting wat hulle aan die mense deurgee te toets nie. Geen Google of ander soekenjin is beskikbaar nie. Al ander weergawe is dit wat die vroue vertel. Die vroue vertel hulle het Jesus gesien. Jesus lewe.
Die gedeelte stel ons voor ’n keuse om soos baie gelowiges voor ons te kies watter weergawe van wat by die graf gebeur het ons gaan glo. Wat ons kies, wat ons glo, is bepalend vir ons lewe. Wat glo jy het gebeur terwyl die wagte geslaap het?
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten