1 Konings 17: 8-16

In Lukas 4: 25-26 lees ons hoe Jesus na hierdie gebeure in Sarfat verwys. Weg van die veiligheid van die Kritspruit waar Elia geskuil het, bevind hy hom nou in die hartland van die Baälverering. Hier ontmoet hy ’n weduwee wie se kosvoorraad heeltemal uitgeput is. Onthou, dis droogtetyd. Maar hier in Sarfat beleef Elia opnuut dat God getrou is – ja, ook met lewensmiddele. Hier beleef hy hoe God in mense se harte en denke werk, en die weduwee van Sarfat se denke verander. U God word later ons God na die opwekking van haar seun uit die dood. Elia kan sien hoe hierdie weduwee verander. Nog later gaan Elia met die Baälprofete ontdek hoe God daar op Karmelberg ook hul gode ontmasker en mense se koppe swaai.

God loop met sy kinders ’n pad deur die lewe. En dit bly ’n voorbereidingsreis hier op aarde. Die probleem is net dat ons so verstrengel raak in wat met ons gebeur. So kan siekte of finansiële swaarkry ons lewens regeer en ons gedagtes oorheers. As ons maar net kan raaksien dat alles wat met ons gebeur, iewers op iets uitloop. Die grootste wonderwerk beleef ons reeds: die wonder dat God ons ken en dat ons daarop kan antwoord. Alles draai om hierdie verhouding tussen God en ons.

Ons is egter so vatbaar vir negatiewe belewenisse. As ons maar net kan ontdek dat ons sekuriteite nie lê in die dade wat ons verrig nie, maar in die voortdurende verhouding wat ons met God het. Dit is God se empatie, sy liefde en geduld wat ons elke dag dra, soveel te meer deur elke krisis. Dit is feilbare mense soos ek en jy, Elia en ander wat instrumente is vir die grootheid van God. Deur ons lewens wat ons hier op aarde leef, word God se liefde sigbaar.

Kan jy aan ’n episode in jou lewe dink waar God jou net aan jou lot oorgelaat het? Vertrou jy Hom in jou diepste nood?

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link