Sagaria 9: 9-10

Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie. Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei. Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word. Die koning sal vrede vir die nasies afkondig en hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.

Eersdaags herdenk ons die intog van Jesus in Jerusalem, wat die begin van die Groot Lydensweek aandui. Ons lees ’n profesie in Sagaria 9: 9-10 wat reeds van hierdie intoggebeure vertel.

Konings sou gereeld in prosessies stede binnegaan om hul nuwe koning-skap te bevestig. Sagaria gee ons die karaktereienskappe van hoe dié volmaakte Koning moet wees: Regverdig … ’n oorwinnaar … nederig. Ons meet Jesus aan hierdie karaktereienskappe en weet dat Hy die volmaakte voorbeeld daarvan is.

Dan lees ons verder dat hierdie Koning op ’n donkie sal ry. Die perd was daardie tyd die mees gekose rydier van konings, want dit simboliseer mag, gesag en oorwinning – ’n boodskap wat elke koning tog duidelik aan sy onderdane wil deurgee. Maar Jesus se keuse is nie ’n perd nie, maar ’n donkie, wat die simbool van nederigheid en koninklike waardigheid was.

Skertsend kan ons sê, daar was dus in die Bybelse tyd reeds ’n bewussyn onder die mense oor die status van jou vervoermiddel: Ry jy ’n donkie of ry jy ’n perd? As daar ’n koning is wat ’n perd van oorwinning en gesag moes ry, was dit Jesus, maar tog kies Jesus om steeds die simbool van nederigheid te ry – die donkie.

Dan die appèl tot ons: Wat is die “perde” van mag en aansien wat ons moet afsaal, en wat is die “donkies” van nederigheid wat ons eerder in ons eie lewe moet opsaal? Kom ons volg die voorbeeld van ons volmaakte Koning.

Ds Rudi Janse van Rensburg, Weltevreden

Share via
Copy link
Powered by Social Snap