Esegiël 47: 1-12

Ons hoef nie te getuig sodat ons kan bly leef nie, maar ons moet leef om te getuig. Die gelowige word die stroom waardeur die grootheid van God, soos lewende water, na elke droë en woestynagtige gebied van ’n verwarde wêreld vloei. As die gemeenskap van gelowiges nalaat om te getuig, word ons soos ’n dam sonder water – leeg aan die diepste binnekant, vol krake van wanhopigheid, sonder lewe, sonder groei en sonder waarde.

Die boek van Esegiël speel af in die grootste laagtepunt vir die volk van die Here in die Ou Testament – die tyd van hul ballingskap en die val van Jerusalem. Dit speel af in ’n tyd toe dit vir Israel die droogste in hul geloof geword het. Esegiël bedien mense wat in hierdie geweldige geestelike krisis verkeer. Hy probeer om in hierdie geestelike droogte vir hulle ten minste ’n bietjie hoop te gee. Hy vertel dan van ’n visioen wat hy gehad het. Hy vertel van ’n stroom water wat vanuit die tempel begin vloei en ’n dor woestyn in ’n paradys verander. Deur gebruik te maak van simboliek, beklemtoon Esegiël dat hierdie stroom lewende water van God af kom en dat dit ’n simbool is van God se teenwoordigheid. Dit verander alles waarmee dit in aanraking kom.

Vier keer word die diepte van die waterstroom gemeet. Water, soos in die geval van strome, is gewoonlik by die oorsprong die sterkste. Maar hierdie stroom wat Esegiël sien, is anders. Hoe verder dit van sy oorsprong af wegvloei, hoe sterker het die stroom geword. Later is die stroom van water so sterk dat daarin geswem moet word. Waar die stroom kom, sal alles lewe, selfs waar lewe onmoontlik gelyk het. Die lewende waterstroom wat van God af kom (van die tempel af) en ’n teken is van lewe (dit begin in die oostekant), wek ook lewe (lewe in die Dooie See). Dit bring voedsel en genesing vir die dorre wêreld waardeur dit vloei.

Ons is nie geroep om damme vol dooie water te wees nie. Ons lewens is die uitvloeiplekke, die kanale, vir die lewende getuienis oor God se grootheid en almag. Gee jouself volkome aan die Here oor en laat jou getuienis oor Hom verder vloei, nie waar jý wil nie, maar waar sý stroom jou ook al lei. Leef om te getuig!

Ds Marius Kramer, Krugersdorp-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap