Job 39: 36-38

Covid-19 het ons almal onverwags in 2020 getref. Is Covid-19 die wil van die Here? Is dit sy wil dat miljoene mense as gevolg van die virus gesterf het? Is dit die wil van die Here dat rampe en ellende die wêreld en vir my en jou tref? God alleen ken die antwoord. In die Here se gesprek met Job (Job 38 en 39) is dit duidelik dat ons nie eens van alledaagse gebeure verklarings kan gee nie, hoe dan nog van dit wat God se wil is of nie sy wil is nie?

Die Bybelse boodskap is dat God nie slegte omstandighede veroorsaak nie. Al die pyn en ellende was nie aanvanklik deel van God se skeppingsplan nie, maar is die gevolg van die sondeval. Na die sondeval is dit ’n lewenswerklikheid. Tot Jesus se wederkoms leef ons in ’n wêreld waar goeie en slegte dinge gebeur. Dit beteken nou nie alles is maar aan die noodlot, die natuur of wat ook al oorgelaat nie. Nee, God bly altyd in beheer. Hy het alle mag in die hemel en op aarde.

Waarom Covid-19 en baie ander dinge met ons gebeur, sal ons nooit regtig weet of verstaan nie. Wat ons wel weet, is dat dit die wil van God is om die mens met alles deur Jesus Christus en sy Gees op die regte spoor te bring, en na Hom te lei. Vir ons saligheid, redding en werklike welwese, is dit baie kere juis die beste dat die lydensbeker nie weggeneem word nie, dat ons soos Jesus die pad van lyding moet stap tot die einde toe.

God wil alles, al verstaan ons dit nie nou nie en al het ons nie die antwoorde nie, vir sy kinders ten goede laat meewerk (Rom 8: 28). Ons wat God se kinders is, kan altyd, te midde van voorspoed en rampe, seker wees dat niks ons sal skei van die liefde van God nie (Rom 8: 38). Selfs in die donkerste diepte. Ook as jy bang is vir Covid-19 en die impak daarvan op jou lewe.

Prof Bieks Beukes, Emeritus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap