Matteus 13: 44-50

Is daar regtig so ’n plek waar God Koning is? In Matteus 13 verduidelik Jesus aan die hand van drie beelde uit die alledaagse lewe iets oor die koninkryk. Jesus praat oor landbou (vers 44), oor handel dryf (vers 45) en oor visvang (vers 47).

Wanneer die Jode in Jesus se tyd aan die koninkryk van God gedink het, het hulle gedink aan ’n bestaan los van Romeinse oorheersing. Net God is die ware Koning van die Jode. Die profete in die Ou Testament het voorspel dat God vir sy volk uitkoms sal stuur wanneer die Messias sal kom om oor die volk te regeer. Maar Jesus praat nie oor die koninkryk in terme van militêre optrede, sterk konings en wraak teenoor die vyande nie. Hier in Matteus 13 vertel Jesus dat wanneer mense die koninkryk van God vind, is hulle oorstelp van vreugde, blydskap en opgewondenheid. Mense is so opgewonde om deel te kry aan die koninkryk dat hulle alle ander dinge as minderwaardig en waardeloos beskou. Mense sal alles wat hulle het verlaat, verkoop, versaak, net om deel te kry aan die koninkryk.

Jesus se vertellinge oor die koninkryk is nie bedoel om letterlik of geestelik verstaan te word nie. Jesus wou vir mense ’n nuwe lewenswyse kom leer. Die koninkryk is nie ’n fisiese plek met ’n adres nie. Dit is ook nie ’n droom nie. Dit is nie net ’n idilliese lugkasteel nie. Die koninkryk is ’n leefwyse, ’n bestaanswyse waardeur God verheerlik word.

Die koninkryk is nie ver van ons af nie. Die koninkryk is hier by ons. Jesus sê self in Hom breek die koninkryk aan. Sy koms na die wêreld maak dat die koninkryk naby aan ons kom. Sy koms maak dat God se heerskappy naby aan ons kom. God in ons lewe ís die nabyheid van die koninkryk van God. As Jesus in ons lewe is, deel ons reeds in die vreugde en blydskap van die koninkryk van God.

Soek allereers die koninkryk van God; en sy geregtigheid.

Wat julle nodig het sal die Vader dan vir julle gee uit sy oorvloed.

Halleluja! Amen.

(Gesang 471)

Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos

af
af
Deel met behulp van
Copy link