Markus 13: 24-37
Dis vandag die eerste Sondag van Advent, die eerste Sondag van die nuwe kerklike jaar. Daar is vier Adventsondae voor Kersfees en tradisioneel het elkeen ’n tema. Die tema van die eerste Adventsondag is verwagting.
Maar verwagting na wat? Hoeveel slapies nog voor Kersfees? Dis iemand met ’n verwagting wat so vra! Die Kersbome en liggies in winkels sal ons vanjaar weer gereeld en met groot opskrifte herinner: Nog soveel inkopiedae voor Kersfees!
Advent is ’n tyd van verwagting, maar om watter verwagting gaan dit hier? Die verwagting van ’n vakansie by die see, of dalk die verwagting van Jesus se geboorte? Maar dit het tog reeds gebeur? ’n Vrou “verwag” tog nie meer as haar baba klaar gebore is nie?
Advent gaan oor Christus, ja, maar dit gaan om meer as sy geboorte. Dit is ’n verwagting wat te doen het met sy eerste en sy tweede koms. Wanneer ons sy eerste koms vier met sy tweede koms in gedagte, het ons Kersfeesvieringe net soveel meer betekenis! Sy eerste koms was in vernedering (Fil 2: 7). Sy wederkoms sal in heerlikheid wees. Hierdie keer kom Hy om te oordeel – die lewendes en dié wat reeds gesterf het. Was dit nie vir sy eerste koms nie, sou ’n mens glad nie na hierdie dag uitgesien het nie. Al verwagting was dan die verwagting van straf en veroordeling! Nou is dit egter anders vir almal van ons wat glo dat die Here Jesus gekom en vir ons sondes gesterf het, weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel, vanwaar Hy weer sal kom. Die Regter vir wie ons wag, is die Een wat sy lewe vir ons sondes afgelê het!
1 Petrus 1: 3-5 stel hierdie verwagting treffend: In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.
Ds Willem Sauer, Waterberg
