Johannes 3: 1-21

Die koms van Jesus Christus na hierdie wêreld is ten diepste ’n liefdesdaad van God. Sy liefde verander alles. Hierdie liefde word die nuwe reël en wet waarvolgens die gelowige sy/haar lewe inrig. Iemand wat aan Christus behoort, is inderdaad ’n nuwe mens. Die nuutheid van die nuwe mens word aan die liefdesbeginsel getoets en daardeur getemper. 

Nikodemus worstel met hierdie werklikheid in sy eie lewe: Hoe kan ’n mens (nuut)gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie? Die nuwe lewe is ’n gawe en ’n geskenk van God aan mense. In Jesus ontvang gelowiges hierdie verlossing en vind daar ’n nuwe geboorte uit water en Gees plaas. Wie in Hom glo, sal die ewige lewe hê. Die ewige lewe is nie ’n verlenging en/of voortsetting van die huidige aardse bestaan nie. Hierdie geestelike gawe het in Jesus se koms ’n werklikheid geword. Die ewige lewe is nou ’n werklikheid. Die geboorte, lewe, lyding en sterwe, sowel as die opstanding van Jesus, is oomblikke waarin die hart van God uitgestal en geopenbaar word: Ek het julle lief!

Sin en lewe word in die milieu van God se liefde en in gemeenskap met Jesus gevind. Dit alles wink nie eendag op die horisonne van ons bestaan nie. Dit is reeds ons deel. Hier en nou is die spasie waarin God my lief het en my oproep om te doen wat Hy ons geleer het: Sorg vir die hulpbehoewendes, sien om na die belange van die weduwees en die wese, bid vir mekaar, wees dankbaar, en leef lojaal aan Jesus.

Dr Frikkie Labuschagne, Sinodaal

af
af
Copy link