Handelinge 27: 13-38

Die bekende lied Kinders van die wind beskryf ons as soekers wat nie vind nie. Soos wat winde soms ’n skip van koers af kan waai, word ons dikwels ook van koers afgewaai, wat veroorsaak dat ons verdwaal en verlore voel. Die lewe is dikwels maar baie onseker.

In Handelinge 27 lees ons van Paulus-hulle se seevaart wat bemoeilik word deur onstuimige see en dwarswinde. Paulus is op ’n skip as ’n gevangene en onderweg na Rome toe om voor die keiser te verskyn, waar hy in huisarres sou wees. Tydens hierdie seevaart beland die skip in so ’n erge storm dat hulle die skip se vrag en toerusting in die see moet gooi om te verhoed dat die skip sink. Die storm is so erg dat hulle vir dae nie die son of die sterre kon sien nie, wat beteken dat hulle nie hul koers kon bepaal nie. Rigtingloos en sonder ’n vrag of toerusting was die bemanning baie moedeloos en sonder hoop. Hulle was op pad na nêrens en die vooruitsig om te oorleef, was nie goed nie.

Die storms van die lewe, die onsekerhede van ons daaglikse bestaan en die vinnige tempo van veranderinge, dit alles lei daartoe dat ons soekers word wat nie vind nie. Te midde van die onsekerheid wat die bemanning van die skip ervaar het, getuig Paulus van die Here se teenwoordigheid in hul situasie. Paulus getuig dat die Here aan hom geopenbaar het dat hulle nie deur die storm vernietig sal word nie. Die skip sal wel vergaan, maar hulle sal behoue bly. Hulle is kosbaarder as die vrag van die skip en daarom sal hulle nie verlore gaan nie.

Dit gebeur ook dat ons, soos die bemanning van die skip, maklik moedeloos word. Ons moet egter moed hou. Ons hoop is in die Here wat hemel en aarde geskape het. Hy wat alles geskape het en dit steeds onderhou, sal ook ons gebede verhoor en ons beskerm, al lyk dit nie elke dag so nie. Die Here het ’n plan en ’n doel met ons elkeen se lewe en Hy sal ons beskerm. Hou moed, wees dapper en sterk. Vertrou die Here. Moenie dat die lewe jou ontspoor of moedeloos maak nie. Mag die Here jou gebede verhoor en aan jou vrede gee.

Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas

Share via
Copy link
Powered by Social Snap