Markus 4: 35-41

In hierdie gedeelte sien ons dat Jesus en die dissipels daardie middag saam besluit om na die oorkant van die See van Galilea te vaar. Dinge loop egter vinnig skeef. ’n Groot storm breek uit, en selfs die dissipels, sommige van hulle ervare vissermanne, raak doodbang. Terwyl dit alles gebeur, is Jesus in die agterstewe van die boot vas aan die slaap. Hulle maak Jesus wakker met: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?

Die dissipels se uitroep sê vir ons iets van hul vrees, twyfel en gevoel van verlatenheid. Dit is iets wat baie van ons al self ervaar het. Wanneer storms om ons woed, roep ons ook dikwels uit: Maar Here, gee U nie om dat ons vergaan nie?

Wanneer Jesus wakker word, tree Hy dadelik op. Hy raas met die wind en sê vir die see om te bedaar. Onmiddellik gaan lê die wind en kom daar ’n groot stilte.

In hierdie teksgedeelte is dit duidelik dat die dissipels ’n klomp dinge miskyk, byvoorbeeld die feit dat Jesus sáám met hulle op daardie skuit is. Behoort die feit dat Hy rustig aan die slaap is, nie iets vir die dissipels te sê nie? Hoekom is hulle bang en ongelowig, ten spyte van alles wat hulle al gesien en geleer het by Jesus? Ja, hulle is dalk met groot ontsag vervul, maar die dissipels vertrou en verstaan nie vir Jesus nie. Hulle verstaan nie wie Hy is en waartoe Hy in staat is nie.

Hierdie teksgedeelte daag ons uit: Hoekom raak ons ook bang? Glo ons dan nie? Is Jesus dan nie ook sáám met ons nie? Ken ons dan nie vir Jesus en deur Hom vir God nie? Behoort ons nie ook van beter te weet nie? Mag ons, wanneer ons telkens Sondag na Sondag ons geloof in God die Vader, Jesus Christus die Seun, en die Heilige Gees bely, dit aanhou glo, selfs en veral wanneer ons bang, alleen en onseker voel te midde van die storms van die lewe.

Ds Erika Ferreira, Bellville

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link