Psalm 121

Die eerste dag van 2021! Wat wag hierdie jaar op ons? Hierdie dagstukkies is voorberei midde-in die tydperk van inperking, onsekerheid en diepe bekommernis. Ek wonder hoe 2020 toe vir jou uitgeloop het?

Reeds aan die begin van verlede jaar het Psalm 121 my gekonfronteer met die vraag hoe ek die jaar gaan aanpak – min wetende dat een van ons gesinslede in ’n ernstige fratsongeluk betrokke sou wees, asook van die sluimerende koronavirus-pandemie waarvan die impak wêreldwyd blywend is. Midde-in daardie moeilike omstandighede het ek my voorgeneem om, soos die Psalmdigter, elke dag te begin met ’n uitroepgebed: Vandag kom my hulp van die Here my God, die Skepper van hemel en aarde!

Hoe moet ons hierdie bundeltjie liedere (Ps 120-134) in die groter Psalmboek verstaan? Hierdie pelgrimsliedere is waarskynlik deur gelowiges gesing wanneer hulle met die groot godsdiensfeeste opgetrek het na Jerusalem om by die tempel te aanbid. Wat sou deur die gedagtes van die pelgrim gaan as hy opkyk na die berge wat sy reispad omring? Dat die berge gevaar inhou vanweë die onherbergsaamheid daarvan en die skuilplek wat dit aan wilde diere en rowers bied? Of sien hy dit dalk as heiligdomme vanwaar mense hulp van gode kan verwag? Die antwoord op hierdie uitroep word, waarskynlik deur ’n medereisiger, bevestig: Hulp kom alleen van God, wat die Skepper van alles is!

Die gedagtegang van die Psalmdigter begin wyd: Hierdie Skeppergod wat skepping en skepsel bewaar (Ps 121: 2), is ook die God van Israel, die Verbondsgod. Hy is altyd dáár en bied aan die pelgrim beskerming in onheil en gevaar (verse 3-4). Die fokus verskerp nou en word persoonlik: Die Here is jóú beskermer (verse 5-8)! Geen ander mag, soos die son en maan, kan jou skade aandoen nie. Die Here omsluit jou, jou kom en jou gaan, jou hele lewenstyd – soos in die taal van die Griekwa-digkuns: My siel hou Hy tussen my ribbes vas!

Hoe klink jou eie weergawe van hierdie Psalm ná 2020? Kom ons maak 2021 ’n pelgrimsjaar!

Ds Japie Coetzee, Emeritus

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link