Lofsang: Gesang 74
Liewe ………….., familie en vriende
In enige verhouding waarin die mens betrokke raak, is daar veral twee sake wat ‘n ongelooflike groot rol speel…die sake waarna ek verwys, is VERWAGTINGE en BEHOEFTES!
Die lankal-reeds-getroudes in ons midde sal ons ure kan besighou oor hierdie onderwerpe! Net so sal julle vertellinge oor watter verwagtinge by julle lewe, tien teen een sorg vir groot vermaak en skalkse glimlagte op die gesigte van dié wat lankal-reeds-getroud is! Iemand het eenkeer vir my in ‘n beradingsessie, toe ons oor verwagtinge in die huweliksverhouding gepraat het, gesê: “Dominee weet, vóór ons getroud is het ek gepraat en sy het geluister … nádat ons getroud is het sy gepraat en ek moes luister … deesdae praat ons al twee en die bure luister!”.
Ons praat ook dikwels oor BEHOEFTES, nie waar nie? Daar is letterlik vir elke letter van die alfabet ‘n behoefte. Maar het u geweet dat almal van ons één gemeenskaplike behoefte het – en dít is om LIEFGEHê TE WORD – Om te wéét daar is iemand wat vir my omgee?
Maar let op, geliefdes, al is dit die waarheid, kan U seker reeds die slaggat raaksien: Wanneer hierdie BEHOEFTE ‘om-liefgehê-te-word’ selfsugtig toegepas word, sit ons met mense in verhoudings waarin die een vir die ander wag om die ‘omgee-ding’ te doen. En weet u wat is die voorland hiervan? Mense se verwagtinge word teleurgestel! Hulle vertel sommer baie gou met groot bitterheid dat hulle behoeftes nie erken en raakgesien word nie – en só land byvoorbeeld 8 uit elke 10 huwelike vandag; binne die eerste 7 jaar van huwelikslewe, in die skeihof!
Geliefdes, die Here sê nie vir ons dat dit sonde is om verwagtinge te hê en om die behoefte te hê om liefgehê te word nie, maar wat die Here wél vir ons sê is dat hierdie, ‘ek-gee-om-vir-iemand’-handeling en ingesteldheid, nie spontaan vanuit die mens voortkom nie. Die Bybel leer ons dat ons as mense éérder daarop ingestel is om te wil ontvang as om te wil gee! Dit is hoekom ons so dikwels teleurgesteld is en teleurgesteld raak in ons verwagtinge en behoeftes – omdat ons vanweë ons menswees op onsself ingestel is!
Om hierdie rede het Jesus Christus aarde toe gekom. Dis wat 1 Johannes 4: 7-12 vir ons wil leer:
- om vir ons te kom wys en kom leer hoe ‘liefhê’ en ‘omgee’ prakties beoefen word;
- om vir ons as mense te kom leer en wys dat liefde nie in die eersteplek na binne gerig is nie, maar na buite; en
- dat liefde ‘n bestaanswyse is wat nie beoefen word omdat daar meriete in die ander een se lewe en optredes is nie, maar dat ware liefde fokus op die ander een se nood!
Liefde, soos wat ons van God ontvang het en steeds ontvang, wil juis ons ‘na-binne-gerigtheid’ en ‘ons-op-onsself-ingesteldheid’ omdraai in medelydende handelinge en ingesteldheid van uitreik na die ander persoon in nood.
Ai, ek het al so baie hieroor gedink én gebid. oekom werk dit só?
- omdat nét Liefde, kan heelmaak wat deur die sonde bederf is;
- omdat nét Liefde, harte en gesindhede kan verander; en
- omdat nét Liefde, ware versoening te weeg kan bring en gesonde verhoudings kan skep!
Wie hierdie liefde ontvang het en vir God elke dag van sy lewe daarvoor dank en smeek, kyk gewoon net met ander oë na God, homself en na ander! Dis presies waaroor ons aan die begin van die erediens gesing het: “Hy wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef – nou kan ons, uit God gebore, uit die bron van liefde leef! Deur sy Gees, die wondergawe, laat Hy wederliefde spruit; en dié liefde – wat volmaak is – dryf die vrees en selfsug uit.”
Die Bybelse boodskap oor wat die liefde is en hoe die liefde optree, is dus eintlik heel eenvoudig – Wanneer God, wat Liefde is, optree
- tree Hy op met die oog op versoening;
- tree Hy op uit medelye met die nood van die mens;
- tree Hy op met die bedoeling om nuut te maak sodat dié nuutgemaaktes, uit die bron van liefde kan leef.
Wanneer hierdie liefde, met hierdie kenmerke, in ons verhoudings begin gestalte kry, sal my huweliksmaat/medemens die boodskap ontvang:
- “Ek is belangrik vir iemand…iemand sien my raak!”;
- “Ek voel ek beteken iets – ek is waardevol vir iemand”;
- “Ek dra nie alleen aan my laste nie…ek staan nie alleen in my kwellinge nie – daar is iemand wat nie alleen my pyn, hartseer en kommer ken nie, maar ook verstaan en my help dra daaraan!”
Wie sulke liefde ervaar, word deur dié Liefde gelei en bekwaam gemaak om in liefde te dien!
En hierdie ‘dien in liefde’ kom dán daarop neer dat ek:
- al hoe meer daarop ingestel raak om versoenend te lewe in plaas van vergeldend;
- om al hoe meer my medemens te sien soos God hom/haar sien – iemand wat belangrik en waardevol is – só belangrik en só waardevol dat die kruis op Golgota ‘n-nie-te-hoë-prys-was om te betaal nie; en
- onder leiding van die Gees van God, word my gees; dit is my wil en oortuigings, reg gebuig en gevul met deernis vir die nood van ander, eerder as om my rug te draai en weg te stap met die oortuiging dat hulle hulle verdiende loon dra.
Ja, die Gees van Christus – die Liefde – is by magte om denke, spreke en handel te hervorm…dis moontlik vir elkeen wat Hom daarvoor vra!
Liewe …………..en vriende: My gebed dus vir elkeen van ons is kort en eenvoudig:
Mag God die Heilige Gees ons bewus maak van elke Goddelike daad van liefde waaraan ons van oomblik tot oomblik deel het…en ons dan lei om dit teenoor ons medemens te beoefen! Wie met só ‘n ingesteldheid lewe, sal teleurstellinge kan verwerk, omdat die liefde nie in die eerste plek fokus op hoe ék voel en dink nie, maar op die nood van die ander.
Amen