Genesis 50: 15-21 (AFR2020)

Josef en sy broers se ontmoeting na hul pa Jakob se dood, is aangrypend. Sy broers het hom as ’n slaaf verkoop toe hy jonger was, maar Josef het hulle vergewe vir wat hulle aan hom gedoen het. In Genesis 50: 20 lees ons dat Josef vir sy broers sê: Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad…

En hier tref ons die heel mooiste twee woorde in Afrikaans aan: Maar God… Die verandering in die lotgevalle van God se kinders lê in daardie twee woorde opgesluit. In die woorde maar God vind ons die ommekeer van ons omstandighede, die ingryping van die Allerhoogste wanneer ons dit die nodigste het – onverwagse uitkomste op onverwagse oomblikke.

Wanneer Stefanus, wat deur die vroeë Christene as diaken aangewys is, die geskiedenis van Josef en sy broers in herinnering roep, sê hy: Omdat die stamvaders op Josef afgunstig was, het hulle hom verkoop om na Egipte geneem te word. Maar God was met hom (Hand 7: 9).

Hier is nog enkele voorbeelde: Dawid, op vlug van Saul af, het in die berggebied van die woestyn Sif gaan bly. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie (1 Sam 23: 14). In Handelinge 13: 29-30 sê Paulus dat Jesus van die kruis afgehaal en begrawe is. Maar God het Hom uit die dood opgewek. Ons lees ook in 2 Korinthiërs 7 dat Paulus en sy medewerkers verdrukking, aanslae en angs ervaar het. Dan lees ons in vers 6: Maar God … het ons bemoedig.

Só is dit ook in ons eie lewens. My lewe was besig om uitmekaar te val, maar God maak heel wat stukkend is. Ek het gedink dit is klaarpraat met my, maar God het geweet dit is nog lank nie verby nie. Ek was moeg en uitgeput, maar God het vir my krag gegee. Ek was vasgeloop, maar God het my bevry. Ek het verdwaal, maar God het my gevind. My hoop het begin vervaag, maar God bring nuwe hoop.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap