Matteus 16: 24-28

Wanneer Jaco Strydom in sy boek Leef lig oor die krag van gewoontes praat, maak hy die opmerking dat mense graag aan hul uitsonderings (en nie hul gewoontes nie) uitgeken wil word. Hy vertel dat mense dikwels by kerke waar hy optree, sal kom sê dat hulle ook eenkeer ’n boemelaar gehelp het of by geleentheid ’n kind uit die kinderhuis saamgeneem het op vakansie. Of dat hulle ook al hulself sekere dinge ontsê het of hulle al ’n keer of wat afgesonder het om die Here te ontmoet.

Gemeentes getuig ook op dieselfde trant hoe hulle by geleentheid vakansie-uitreike reël, en veral rondom Kersfees kos vir armes insamel. Of hulle staan selfs soms deurkollektes vir verdienstelike sake af.

Die belangrike vraag is egter: Wat doen ek of ons gemeente die meeste van die tyd? Hierdie uitsonderings op die reël kan nie jou godsdiens definieer nie; jy word geken aan wat jy die meeste van die tyd doen.

As Jesus met sy dissipels oor navolging praat, sê Hy dat iemand wat Hom wil volg, homself moet verloën en sy kruis moet opneem. Hy moet homself prysgee ter wille van Christus. Om Jesus net toevallig iewers langs die pad raak te kuier, maak my nie ’n volgeling van Hom nie. Die pad waar Jesus voorloop, moet die pad wees wat ek die meeste van die tyd loop. Ek kan nie net nou en dan my eie pad byster raak en dan ’n bietjie afdwaal na Jesus toe nie.

Dit gaan dus oor ons gewoontes, oor dit wat ons elke dag doen. As ons wil hê die wêreld moet ons Kerk ernstig opneem, sal dit nie help om net meer oor Christus te leer, of te skryf, of te publiseer, of te doseer nie. Die vrugte van navolging sal oorvloedig by ons moet groei. ’n Boom word immers aan sy vrugte geken. Die toets vir goeie teologie lê nie alleen in die suiwerheid van die dogma nie, maar daarin of Christus se liefde gestalte in ons doen en late (gewoontes) vind.

Gebed

Here, ons wil U nie net toevallig raakkuier nie, ons wil U daagliks liefhê, en ons naaste soos onsself. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link