Jesaja 61: 1; Jona 1: 1 – 4: 11
Jona word geroep om God se mense tot bekering te bring. Alhoewel Jona se opdrag meer as een keer aan hom herhaal word, het Jona reeds vooraf besluit wat sy gemaksone is, wat sy roeping is en waar hý sy roeping wil uitleef. Jona verwerp meer as een keer God se roeping. Partykeer is ons ook maar ongehoorsaam en wil ons nie eintlik doen waarvoor ons geroep word nie, want dit is nie lekker of mooi nie. Partykeer volg ons maar ons eie besluite. God gee Jona egter ’n tweede kans en vergewe hom. Net so vergewe God ons ook en kry ons ook tweede kanse.
In Jesaja word die profeet geroep om die verlossingsboodskap vir die volk te bring. God roep ons en salf ons met die Gees om die blye boodskap te bring aan ander, om die goeie nuus te gaan verkondig, om God in die wêreld te verkondig en bekend te maak dat God in die wêreld werk. Ons word gesalf om met ons gawes ons roeping uit te leef. Ons word ook geroep om die goeie boodskap te gaan verkondig, en ons word hierin gelei deur die Gees. Ons hoef nie te vrees om dit alleen te doen nie, ons hoef nie te vrees dat ons nie gereed is om dit te doen nie, want die Gees van God salf ons om ons roeping uit te leef.
Laat die Gees waarmee jy gesalf is toe om binne-in jou te werk en jou te lei sodat jy God se stem kan hoor as God roep. Dan sal jy sien waar God reeds besig is om te werk, sodat jy jou gawes kan gebruik om jou roeping in gehoorsaamheid uit te leef.
Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton
