1 Korintiërs 12: 12-31

Die saak van die gawes van die Heilige Gees het gelowiges nog van alle tye af besig gehou. Daaroor word tot vandag toe baie gestry en verskil. Wat is my gawe(s), hoe identifiseer ek dit, hoe leef ek dit uit, en is party se gawes belangriker as ander s’n? Dit is die soort vrae wat ons vra.

Uit die eerste Korintiër-brief lei ons af dat mense jaloers was op mekaar se gawes en dat die gawe van spreek in tale beskou is as verhewe bo die ander. Dit was eintlik almal se ideaal om ’n vreemde taal te kon praat, ’n taal wat niemand anders kon verstaan nie. Dit het tot baie wanpraktyke en verwarring gelei. Dit lyk of daar maklik gesê is dat ’n mens nie ’n opregte Christengelowige is as jy nie die gawe van spreek in tale het nie.

Paulus lê in hierdie gedeelte klem daarop dat geestelike gawes nie ’n grootheid op sigself is nie, dit is ten dienste van die liggaam van Christus. Dit gaan oor die geloofsgemeenskap as ’n eenheid. Om dit te verduidelik, gebruik hy die beeld van ’n menslike liggaam, iets waaarmee ons almal vertroud is.

Alhoewel jy die verskillende liggaamsdele kan onderskei, is hulle alleen funksioneel omdat hulle aan mekaar verbind en afhanklik van mekaar is. Al is die een klein in vergelyking met die ander, kan die een nie sonder die ander oor die weg kom nie. Al verskil gelowiges dus sosiaal, kultureel en intellektueel, vorm hulle saam die eenheid van die liggaam van Christus.

Positief gesien, behoort ons almal net dankbaar te wees dat ons deel uitmaak van hierdie liggaam van Christus. Al is jou gawes nou ook hoe klein en gering in jou eie of ander se oë, is jou bydrae net so belangrik as enige ander een s’n. Dink so daaraan: As jou pinkie verstuit is, is dit jou hele menswees wat geraak word, of as jou been gebreek is, ly jou hele liggaam. In ons swakheid en krag dien ons God en mekaar met ons gawes. As ons dit doen nie, ly die hele liggaam daaronder.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link