Handelinge 1: 1-8
Ek kan nie nou onthou wie my vertel het nie, maar dit het my hare regop laat staan. Sy vertel dat haar boetie nie meer kerk toe gaan nie en ook nie meer in God glo nie. Hoekom nie? Want toe hy op universiteit was, het hy by ’n dominee geloseer, en die dominee en sy vrou het verskriklik baklei. Hy het daar gesien hoe God se kinders optree.
Ongelukkig is dit so – mense leer Jesus en die kerk ken deur ons. Ons word geroep om getuies te wees. Dit is die opdrag in Handelinge 1: 8. Iemand het eenkeer gesê daar is vyf Evangelies: Matteus, Markus, Lukas, Johannes, en dan die een wat jy besig is om te skryf met jou lewe. Hoe lyk die Evangelie van Jesus Christus volgens my lewe?
Dr Ford vertel ’n verhaal van ’n verpleegster wat deur haar lewe letterlik honderde mense tot geloof gebring het in die hospitaalsaal waar sy altyd gewerk het. Eenkeer het iemand haar gevra om haar verhaal as ’n suster te vertel. Ek is nie ’n verpleegster nie, het sy geantwoord. Hoe dan nou? Jy het jou lewe lank in die hospitaal gewerk en altyd ander versorg. Nee, nee, jy het verkeerd verstaan, sê sy. Ek is nie ’n verpleegster nie, eerder ’n Christen vermom as ’n verpleegster. Jy sien, sy het haar prioriteite reg gehad. Ons is niks meer as dit nie! Ons is Christene vermom as onderwysers, prokureurs, dokters, verkoopsmense. As kinders is ons gedoop, maar intussen is ons volgemaak met die Heilige Gees.
Dalk is dit hoekom dit partykeer so moeilik is om ’n getuie te wees. In Handelinge 1: 6 en 7 was die dissipels soos in die verlede weer begaan oor ander dinge. Maar Jesus kom en trek ’n streep deur hierdie denke en sê vir hulle eenvoudig: Wees net ’n getuie! Dalk moet ons eerder vra hoe kan ek ’n getuie wees vir Christus? Dit begin nie noodwendig by die uithoeke van die wêreld nie. Dit is waar ons eindig. Begin vandag deur net ’n getuie te wees vir die mense rondom jou.
Dr Hein Delport, Swartkop
