Kolossense 3: 1-4

Wat beteken ontvlugting? Eintlik ’n klomp negatiewe dinge, of hoe? Ontvlugting beteken jy wil wegkom vanuit ’n slegte situasie. Jy ontvlug omstandighede en ignoreer soms die probleem. Watter werklikheid is dit wat ons probeer ontvlug? Daar is eintlik net twee opsies – die aardse of die Goddelike werklikheid. Wat probeer jy vandag vermy of ontvlug? Is dit deel van die aardse werklikheid – teleurstelling, mense, reëls en strukture? Of die Goddelike werklikheid – jou geloof, jou vertroue, jou verstaan van God se genade en liefde en teenwoordigheid? Of “vlug” jy vir Christus?

Die skrywer rig hierdie brief aan die gemeente in Kolosse. Hulle word beïnvloed deur dwaalleraars wat probeer om ’n saamgestelde geloof te beskryf – Griekse, Joodse en Christelike geloofswaarhede. Die gevolg hiervan was ’n sterk Joodse invloed, waarvan die Fariseërs en die skrifgeleerdes met hul wettiese inslag deel was. Wat het die Fariseërs en die skrifgeleerdes met al hul kennis gedoen? Hulle het hulself afgesonder om voluit die godsdiens te beoefen, want indien hulle al die wette nakom, sal hulle gered word.

Hierdie wetsgehoorsames het die Goddelike werklikheid ontvlug, hulle wou alles self beheer. Hulle het hul kennis beoefen, maar nie verstaan en uitgeleef nie. Volgens hulle sal, indien hulle alles weet, alles reg wees. Maar het dit beteken hulle sou nie swaar en moeilike tye ervaar nie? Dat niemand hulle sou uitdaag nie? Ons weet dit is nie die realiteit nie. Wanneer die skrywer sê hulle moet strewe na en hul gedagtes rig op die dinge wat daarbo is, is dit glad nie vlug en vermy alles en almal op hierdie aarde en gaan bly in ’n klooster nie. Rig jou gedagtes op die dinge wat daarbo is, op die Goddelike werklikheid, dan sál jy krag en leiding deur die Heilige Gees ontvang om hier in die aardse werklikheid te leef.

Mag die Gees jou hierdie week lei om jou gedagtes te rig op die dinge wat daarbo is, en jou krag gee vir jou versoekende en struikelende omstandighede.

Ds Joleen Marx, Welgelegen-Pietersburg

af
af
Deel met behulp van
Copy link