Die feit dat ons vanaand hier in die erediens byeen is, is menslik gesproke, ‘n wonderwerk. Net die blote gedagte dat die kerk vandag nog bestáán, is ‘n groot wonder en het niks met die mens se vermoëns of genialiteit te make nie. Vanaf die vroegste tye het die mens probeer om God se werk in die wiele te ry.
Deur die eeue vind ons dat die mens telkens die pad byster raak, telkens sy eie kop en weg volg. Die Kerk sélf, was baiekeer aan die voorpunt van hierdie verkeerde weë. Ons dink maar aan die Kruistogte (Dit is Christene wat in die naam van God oorlog gevoer het). Die Rooms Katolieke Kerk met sy leer van die aflaat is nog ‘n voorbeeld. Kolonialisme met die gepaardgaande stigting van Sendingstasies wat meermale eintlik net ‘n front was vir die mens en die Kerk se poging tot self verryking. Daar is nog baie voorbeelde, maar hierdie drie toon die mens se arrogansie en selfverheerliking voldoende.
Maar goddank, is die Kerk nie in die hande van mense gelaat nie. Net wanneer die mens dink dat hy al die kennis het om op sy eie aan te gaan en sélf te besluit wat die beste vir God se Kerk is, gebeur daar iets, of word daar iemand gestuur, om die Kerk weer op die regte koers te bring. Miskien is ons nie vêr van die kol af indien ons sou sê dat God op sekere tye in die geskiedenis die Kerk geweeg het, en dit te lig gevind het nie. In sulke tye stuur God dan mense met besonderse gawes om die leisels weer vas te vat. Stuur God mense met besonderse insig wat kan onderskei tussen reg en verkeerd.
God laat nie sy Kerk oor aan die giere en grille van mense nie, Hyself hou die Kerk in stand. En Hy doen dit deur gereeld die Kerk te toets. Paulus sê die bouwerk sal getoets word, wat meer is, die bouwerk waarvan elkeen van ons ook deel is, sal getoets word.
Watter bouwerk is dit wat getoets sal word? Uit ons gelese gedeelte sien ons dat Paulus sê: “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Heilige Gees in julle woon nie?” Ons is die bouwerk en ons gaan getoets word met vuur. Die tempel of Kerk is nie ‘n gebou nie. Dit is ook nie ‘n spesifieke plek nie. Die Kerk is waar God se kinders in die wêreld leef. Of ons Sondag hier in die kerkgebou byeen is en of ons by ons eie huise is, die Kerk van God is by ons. By ons werk en by ons huis is ons elkeen die verteenwoordiger van God se huishouding in die wêreld. Deur die doop word ‘n kind deel van hierdie huishouding van God, word daardie kind self ook deel van die gebou wat ook Kerk genoem word. En Paulus sê dat daar waar elkeen van ons Kerk is, daar sal ons deur God se vuur getoets word. Hierdie toets is om vas te stel of ons besig is met bouwerk, of brouwerk? Maar hoe moet hierdie bouwerk dan lyk?
Wanneer ons ‘n huis bou verg dit baie beplanning. Ons kan nie net begin en mure bou en ‘n dak opsit nie. Dan sal hierdie huis nooit die kragte van die natuur kan weerstaan nie, wat nog te sê van God se vuur. Net so werk dit met ons eie gebou, die Kerk. Ons moet saam met die Groot bouer van geestelike huise, God, ons huise beplan en bou. Die fondament van ons huis moet Jesus Christus wees. Ons hele huishouding moet vasstaan op die geloof dat Jesus Christus ons enigste Verlosser is. Ons hele Christelike geloof staan of val by die belydenis dat Jesus Christus waarlik die Seun van God is. Ons hele manier van kerkwees, ons hele tradisie kan verander, maar ons belydenis van Jesus Christus bepaal die wese van ons geloof. Ons staan vasgeanker op hierdie fondament.
Wanneer die fondament gelê is, kan ons saam met God begin om die mure te bou. Die Heilige Gees is die sement waarmee ons huis se boustene aanmekaar gehou word. Wanneer die sement goed gemeng is, sal die huis nooit kraak of inmekaar tuimel nie. Dit bind die huis saam tot ‘n sterk eenheid. Ons moet kategese bywoon, daarna lê ons belydenis van geloof af. Dit is deel van die stene waarmee die huis gebou word. Telkens wanneer ons in die erediens byeen kom, word die stene van ons huise vasgemessel. Kerkwerk is ook bouwerk. Elke keer wanneer ons uit dankbaarheid iets doen vir die Kerk, is ons besig om boustene te lê in God se huis. Of dit nou beteken om op die Kerkraad te dien, of om Kategese aan te bied, of om basaar te hou. Wanneer hierdie stene aanmekaar geheg word deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees, sal ons huise in krisistye staande bly.
God is die dak wat oor die huis gebou word. Die dak van die huis beskerm ons teen reën en hael. Teen die koue van die nag en die hitte van die dag. Soos ‘n groot sambreel moet God oor ons huise gespan wees. Wanneer God ons dak is, kan ons weet dat ons bouwerk die aanslae van die wêreld sal weerstaan. Weet ons sal dit ook die vuur wat God stuur kan weerstaan. God ons Vader, is die beskermer van ons huise.
Die vensters en die deure is onsself wat lidmate van die Kerk is. Deur ons kry die wêreld die geleentheid om te sien wat binne God se huishouding aangaan. Kry mense die geleentheid om te sien of hulle ook deel wil wees van God se huishouding. As die vensters vuil is, of as die deure altyd toe is, sal mense nooit kan sien wat binne die gebou gebeur nie. Sal hulle verbystap en die Kerk ignoreer. Die wêreld sit met groot oë en ore na die Christene en kyk en wag dat ons ‘n misstap begaan. Dink maar net hoe vinnig die koerante reageer en ‘n storie opblaas wanneer die Kerk of predikante betrokke is in ‘n saak. Dit is asof almal hulle verlustig wanneer Christene iets verkeerd doen of sê. Ons vensters mag nooit vuil wees nie.
Die gedagte moet eerder wees dat mense deur dit wat ons doen en sê, so aangespreek moet word, dat hulle graag deel wil word van ons huishouding. Dit wat iemand van buite deur die vensters en deure van die gebou sien, moet hulle uitnooi om dadelik deel te wil word. Waar ons in die wêreld God se Kerk is, moet ons vensters skoon wees en ons deure oop, sodat elkeen wat ons pad kruis uitgenooi word om na God se werk te kyk en self deel daarvan te word. Vuil vensters en toe deure stoot mense af. ‘n Christen wat nie leef en optree soos die Bybelse voorskrifte nie, stoot mense af.
Volgens vers 13 gebruik ons elkeen verskillende materiaal waarmee ons die huis verder wil mooimaak en versier. Nie almal van ons het dieselfde vermoëns of gawes ontvang nie. Party van ons kan ouderlinge wees, ander dalk weer diakens, sommige het die gawe ontvang om kinders te onderrig by die Kategese, ander kan met geld werk en finansiële beplanning doen, nog ander kan weer evangelisasiewerk doen, ander kan dalk in die koor sing. Elkeen het iets wat hy/sy vir die diensgroepe van die Kerk kan bied. Sommige sal bou met goud, ander met silwer en nog ander met edelstene, sommiges sal help bou met hout of gras of strooi. Dit maak nie saak wat ons gebruik nie, solank ons net nie die bouwerk afskeep nie, want die dag gaan kom wat God elkeen se bouwerk met vuur sal toets.
Die bouwerk wat getoets word is die Kerk. Maar nie die Kerk soos wat baie van ons dalk dink nie. Die Kerk bestaan nie uit ‘n klomp geboue nie. Dit is ook nie ‘n groep mense wat gekies word om aan die hoof te staan en sekere besluite namens ander mense te neem nie. Dit is nie ‘n instituut of organisasie nie. Die Kerk bestaan uit mense wat in ‘n geloofsgemeenskap saamkom en hulle geloof in die wêreld uitleef. God toets ons bouwerk waar ons elke dag in die wêreld leef. Wanneer en in watter vorm die toets kom, weet ons nie. Maar dat dit wel plaasvind, kan ons nie betwyfel nie. Ons eie lewensverhaal is ‘n stille getuie dat God wel die bouwerk in ons lewens toets. Is ons lewe, of huise dan, gebou met God Drie-enig? Of bou ons maar waarmee ons wil en soos ons wil? Die vuur sal ons bouwerk toets!
Deur Martin Luther het God die Kerk van die 16e eeu getoets en te lig bevind. Die leer dat ons deur Jesus Christus uit genade alleen gered sal word, het die Kerk vervang met ‘n leer waarin ‘n mens jou sonde kon afkoop deur ‘n boetedoening voor ‘n Priester. Die Kerk was nie meer gebou met God Drie-enig nie, maar het bestaan uit boustene wat deur sand (menslike foefies of gebruike) aanmekaar gebind is. God se vuur het die Kerk blootgelê vir wat dit was.
Die toets raak ons egter meermale op ‘n meer direkte wyse. In my persoonlike lewe sien ek die toets partykeer duideliker as wat ek dit in die algemeen ervaar. Miskien lê my toets in die gesig van die bedelaar wat om kos smeek. Sal God se vuur wys dat ek stene van naasteliefde het en nie stene van meerwaardigheid nie?
Miskien lê my toets in die verhaal van die geliefde wat ek aan die dood afgestaan het? As my huis met God Drie-enig gebou is, sal ek vind dat ek hierdie krisis kan weerstaan, maar as ek met sandstene gebou het, sal ek sien dat hierdie gaping wat deur ‘n geliefde gelaat is, nie maklik herstel kan word nie. My huis is dan geneig om inmekaar te tuimel.
Ons huwelike word baiekeer deur God se vuur getoets! – Suid Afrika het die hoogste egskeidingsyfers in die wêreld, miskien is die bouwerk wat ons as Kerk doen, nie goed genoeg nie. Miskien praat ons te min of miskien doen ons te min, hoe dit ookal sy ons as Kerk, dit wil sê ons as Christene, is besig met brouwerk inplaas van bouwerk, wanneer dit by die bou van huwelike kom.
As gemeente moet ons weet, ons staan ook onder God se toets. Daar sal ‘n dag kom wat God ook hierdie gemeente sal toets en kyk of die bouwerk goed is. Is ons bouwerk geanker op Jesus Christus as fondasie? Is die Heilige Gees die sement wat ons boustene aanmekaar bind? Is die boustene self stewig en nie maar ‘n klomp grille en giere waarmee ons bou nie? Is God die dak oor ons koppe wat ons sal beskerm? Is ons as gemeente vensters en deure vir God, sodat mense uitgenooi sal word om deel te hê aan God se gebou. Net die tyd en God se toets, sal ons die antwoorde gee.
Maar wat dan as ons verkeerd gebou het? Martin Luther het krake in die Kerk se bouwerk raakgesien. Dit het egter nie toevallig gebeur nie, maar het alleenlik gebeur omdat hy die handleiding van bouwerk bestudeer het. Ons moet eers die moets en moenies van bouwerk leer, voordat ons ‘n huis kan begin bou. Netso werk dit ook met ons geestelike geboue. Ons moet eers in die handboek gaan kyk waar om te begin en dan leer hoe om te bou. Deur die Bybel te lees het Luther die krake raakgesien en geleer hoe om die herstelwerk te doen. Die Bybel leer ons hoe om te bou sodat ons God se toets sal weerstaan. As ons nie die Bybel bestudeer nie, kan ons vergeet om bouers vir God te wees. As ons wil sien dat ons geboue God se toets weerstaan, moet ons die slagspreuk van die Hervorming, ook ons eie slagspreuk maak: “SOLA SCRIPTURA” Die Bybel alleen.
Amen