Lukas 13: 22-29

Op pad na Jerusalem word Jesus met baie dinge gekonfronteer. Sy wonderwerke het groot aandag getrek en heelwat volgelinge gelok. Tog blyk dit dat daar erge oppervlakkigheid by talle van sy volgelinge was. Dit het meer gegaan om die wonder as die inhoud van wat Jesus geleer het. ’n Aktuele vraag word aan Jesus gestel op grond van Joodse geskrifte wat gesê het dat die Allerhoogste hierdie wêreld ter wille van baie geskep het en die toekomstige wêreld net vir weiniges. Die weiniges sou dan volgens hul beskouing dié wees wat die wet getrou onderhou het en dus self hul heil uitgewerk het. Nou vra hulle vir Jesus of dié wat gered word maar min is.

Jesus antwoord nie die vraag met ’n ja of nee nie. Hy gebruik die geleentheid om op die dieper kant van die verhouding met God te fokus. ’n Gelowige moet hom- en haarself daaraan toewy om so in verhouding met God te lewe dat dit nie om die getalle sal gaan wat die koninkryk van God sal ingaan nie. Die smal deur dui nie op die moeilikheidsgraad om daardeur te kom nie. Jesus is self die deur waardeur ’n mens na God toe gaan. Dit gaan nie oor hoe besig jy is en of jy al die wette nakom nie, maar of jy Jesus aanvaar as die wegbereider na God toe.

Jesus is egter ook die Een wat die deur toemaak, waarna dit nie meer moontlik is om deur die smal deur te gaan nie. Dit is nie die kerk of volk waaraan jy behoort wat jou lot bepaal nie. Almal – Abraham, Isak en Jakob, die profete wat in God geglo het en getrou was, ja, almal wat uit alle windrigtings gekom het om deur Jesus deur die smal deur in te gaan – sal deel in die feesmaal in die koninkryk van God. Ook ons, die mense van vandag, wat niks minder of meer gedoen het nie as om aan Jesus Christus vas te hou.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link