Numeri 17: 8
Toe Moses die volgende môre by die tent met die getuienis kom, was daar botsels aan die kierie van Aäron, wat daar was vir die stam Levi. Trouens, daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra.
Dit is nogal opvallend hoe baie struik- en boomname met mense en karaktertrekke ooreenkom. Kom ons begin maar by onsself. Hoe sien ander mense ons? Om nie eens van ons Skepper te praat nie!
Is ek ’n haak-en-steek, altyd besig om ander mense met my optrede en woorde seer te maak en terselfdertyd sommer soos die raasblaar ook te klink? En tog sê die Bybel duidelik in Romeine 12: 18: As dit moontlik is, sover dit van jou afhang, leef in vrede met alle mense. Of dalk is ek soos die deurmekaarbos, ’n ongedissiplineerde mens wat alles half doen. Of is ek soos die wag-’n-bietjie en die treurwilger, die uitstellers en die swartgalliges wat vergeet dat Jesus na ons gekom het om blydskap en vreugde te bring? En so word ek as’t ware ’n boom-sonder-naam en ’n mens wat niemand besiel nie, omdat ek nie gewillig is om ’n kanniedood wat in die moeilikste omstandighede kan oorleef, te wees nie.
Ons lees in Numeri 17 van die wonderwerk van die bloeisels aan die kierie van Aäron. Daar staan trouens dat daar nie net botsels aan die kierie was nie, maar dat daar ook bloeisels was. Ons moet daarna streef dat blomme en vrugte in elkeen van ons se lewens sigbaar sal wees. Laat ons ook kleur aan ander mense se lewens bring. Eers dan word ons kanniedood-gelowiges in God se diens.
Gebed
Here, gee ons die genade om bloeisels na vore te bring. Dankie dat U die oorsprong is van ons vreugde, groei en die sonskyn wat ons in mense se lewens kan wees. Dankie dat ons so begenadig kan word deur die krag van die Gees in ons lewens. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos
