2 Timoteus 2: 13

Paulus skryf in 2 Timoteus 3: 12: Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. Daar is Christene wat vandag steeds bloedig vervolg word. Vervolging kan natuurlik ook op meer subtiele maniere voorkom, soos deur middel van bepaalde ideologieë, of houdings soos ’n traak-my-nieagtige ophaal van die skouers wat sê dit raak my nie, dit roer my nie. Dit kan goeie, gawe mense wees, mense in jou buurt, straat, wyk, huis of koshuis wat jou andersins hartlik en vriendelik sal behandel. Maar sodra Christus ter sprake kom, verander hul gesindheid en houding: Soms spot hulle agteraf, soms raak hulle openlik vyandig en venynig. Paulus herinner Timoteus daaraan dat die pad van Christen-wees nie altyd met rose besaai sal wees nie. Om Christus te volg, beteken daarom volharding.

Maar hoe sal ons kan volhard in ’n wêreld met soveel weerstand teen God, ’n wêreld waarin Bybelse waardes al meer verkrummel en die waarheid al hoe meer van die tafel gevee word? Paulus gee ’n aangrypende antwoord in die vorm van wat waarskynlik ’n oud-Christelike lied is (verse 8, 11-13). Die lied verloop poëties in parallelle sinsnedes wat sê: As ons dit doen, sal God dat doen. Dit eindig met as ons ontrou is… en ’n mens sou normaalweg verwag om te hoor: …dan sal God ook ontrou wees… Maar dan lees ons teen alle verwagting in: Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie. Hierin lê ons waarborg van ons volharding: die Here se trou. Nie dat dit nou ’n verskoning bied dat ons ontrou mag wees of ’n alibi om die Here te verloën nie. Inteendeel! Die wete dat die Here in sy diepste wese getrou is, roep ons ook op om getrou te bly, om Hom te volg waar Hy ook al mag lei. Sy trou herinner ons immer aan die woorde van verse 11 en 12: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer.

Dr Christo vd Merwe, Emeritus

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link