Handelinge 17: 24-34

Die mens is gemaak om God te soek, al moet hy ook rondtas. En hóé het mense nie al rondgetas nie! Daar is tempels en altare gebou om gode goedgunstig te stem sodat hulle in krisistye kan help. In ’n wêreld waar niks verniet is nie, moet mos betaal word, moet moeite gedoen word as iets terugverwag word! Maar Paulus sê: Nee, God woon nie in geboude tempels nie en het nie nodig dat mense Hom daarin versorg nie. Inteendeel, Hy géé: Hy gee aan mense lewe, asem, álles! Hy is verhewe bo menslike maaksels en waarvoor mensehande kan sorg.

As Hy nie in mensgemaakte tempels woon nie, waar dan? Het God ’n woonplek op aarde? Ja, in Iemand wat Hy uitverkies het, hier gebore. Jesus het dit self mooi gesê in Johannes 2: 19 en 21: Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig… Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. God se woonplek is nie meer in ’n gebou van hout en klip nie, maar in Jesus Christus wat mens geword het. Om naby God te wees, is nie om in die tempel in te gaan met offerandes nie, maar om by Jesus te wees. Hierdie nuwe woonplek van God is toe deur mense afgebreek: Jesus is doodgemaak. Maar drie dae later het die verbysterende gebeur: Hy léwe, die woonplek van God is na drie dae weer opgerig.

Wat daarná gebeur, was nóg wonderliker: Gewone mense kry op ’n uitsonderlike manier deel aan Jesus. God se Gees kom in hulle in sodat hulle kan hoor: Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? (1 Kor 3: 16). Dit mag ons nie vergeet nie. Wat ook al oor ons kom, God hoef nie ver gesoek te word nie: Hy is naby ons; Hy is in ons.

Mag ons ook in die manier waarop ons praat en doen, wys dat ons weet wie ons is: ’n tempel van God waaruit sy lig kan straal.

Dr Piet van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link