Spreuke 1: 1-7 (AFR2020)
In die kerklike kalender begin ons vandag om oor God se werk in die kerk te dink. Ons kan nie oor God se werk en sy bemoeienis met die kerk (ons) praat, anders as om by God te begin nie. Spreuke 1: 7 sê dan ook dat kennis begin by “ontsag vir die Here”. Die Hebreeuse term yirat Yahweh word verskillend vertaal. Dit word soms vertaal as “vrees vir die Here”, maar hierdie vrees moenie verstaan word as bangwees nie. Dit sluit alle aspekte in wat neerkom daarop om die Here te dien: ontsag, respek, eerbied, aanbidding, verwondering, nederige afhanklikheid, erkentlikheid. Om ontsag vir God te hê, is die kern van wysheid. Hierdie refrein herhaal deur die Spreukeboek (2: 5; 8: 13; 10: 27; 14: 27; 15: 16, 33; 19: 23; 22: 4; 31: 30). Dit word as die leuse (motto) van die boek beskou.
Om God te ag met die verwondering en ontsag wat Hom toekom, is die kern van wysheid, maar óók die oudste beskrywing van wat godsdiens behels. Die omvang van wysheid is dus godsdienstig. Dit is gesetel in die geloof en begin by God. Ontsag vir God is daardie verwondering oor en bewondering vir God wat ’n mens spontaan tot aanbidding dring. Dit is erkentlikheid – om dankbaar te wees en God se hand in ons lewens raak te sien en te erken. Dit beteken om God eerste te stel en nederig ons afhanklikheid te erken.
God se betrokkenheid by en bemoeienis met elkeen van ons individueel, maar ook met ons binne geloofsgemeenskappe, dring ons spontaan tot aanbidding en erkenning. Wanneer ons God se hand in ons lewens en in ons Kerk raaksien, kan ons nie anders nie as om in nederige afhanklikheid voor Hom te kniel. Die erkentlikheid vloei uit in ons handelinge sodat ons medewerkers word in God se koninkryk.
Laat ons met ontsag Hom noem, in ons lied die Here roem.
Luisterryk, vol majesteit is sy groot barmhartigheid.
Al sy dade word onthou; Hy’s standvastig in sy trou.
Hy’s op trou en reg gesteld. Wat Hy voorskryf, sal bly geld.
Aan Hom bly sy volk verbind. Wysheid is by Hom te vind.
Laat ons met ontsag Hom noem, in ons lied die Here roem.
(Psalm 111: 2 en 4)
Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria