2 Korintiërs 3: 1-6

Na aanleiding van mense wat sy gesag betwyfel het, skryf Paulus dat hy seker is dat hy nie aanbevelingsbriewe of getuigskrifte nodig het om te bevestig dat hy en sy helpers werklik geroep is om Christus te verkondig nie. Die gelowiges aan wie hy skryf, is sy aanbevelingsbrief. Hiermee word aangesluit by die belofte van die nuwe verbond in Jeremia 31: 34, naamlik dat die wet nie van buite op die mens afgedwing word nie, maar van binne sal kom – op die tafel van die hart geskrywe sal word.

Julle is ons brief wat op ons hart geskryf is, sê Paulus. In ons binneste is daar geen twyfel nie oor die werking van God deur sy Gees met julle. Dit is absoluut duidelik dat daar ook op julle as gelowige lesers se harte met die Gees van God geskryf is, want wat in jul gedrag na vore kom, wys ’n lewe wat van binne af deur God verander is. Julle is ’n brief vir almal om te lees en om te verstaan wat God se verstommende liefde deur Christus en sy Gees aan mense kan doen. Hoe kan dit anders as om ’n getuigskrif te wees vir ons wat uit onsself nie daartoe in staat is nie, maar deur God bekwaam gemaak is om bedienaars van die nuwe verbond te wees!

In ons wêreld van vandag is die kerk met sy ampsdraers in ’n krisis. Verdagmakery is oral aan die orde van die dag. Hoe kan ons wys dat ons werklik gestuurdes van God is? Vir seker kan daar nie ’n beter getuigskrif wees nie as om te sê: Kyk na ons mense – hulle is ons aanbevelingsbrief! Kan jy getuig dat jy werklik deel is van die nuwe verbond en dat God se wil op jou hart geskryf staan? Loop dit wat geskryf staan oor na jou manier van lewe? Lees mense by jou en verstaan hulle wat God se liefde in Christus regtig beteken?

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link