Markus 2: 13-17

Sommige Christene sien die evangelie van Jesus Christus as ’n paspoort tot gemak en sukses. Natuurlik is paspoort nie die regte woord nie. Nee, woorde soos wanopvatting en dwaling is dalk meer gepas.

Sosiale media is nie my gunsteling-tydverdryf nie. Tog gee dit ’n mens soms insig in hoe mense oor sekere dinge dink en voel. Selfs mense wat hulself “Christene” noem, kan nogal aanvegbare stellings maak. ’n Onlangse “Christelike” plasing lui: Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat ek nie drama, konflik of stres in my lewe wil hê nie. Ek wil ’n gerieflike huis en goeie kos hê en deur gelukkige mense omring word. Die meeste mense het positief hierop reageer.

Nie een van ons hou van drama, konflik of stres nie. Ons wil almal graag ’n gerieflike huis hê, goeie kos eet en eksklusief omring wees deur gelukkige, juigende mense. Maar as jy in Jesus glo, is dit nie waartoe Hy jou geroep het nie. In Markus 2: 16 en 17 lees ons: Toe die skrifgeleerdes onder die Fariseërs sien dat Hy saam met sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Waarom eet hy saam met tollenaars en sondaars?” Jesus het dit gehoor en Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.

Dit is soms moeilik om in die geselskap van sogenaamde “sondaars” te wees. Hulle is ontwrigtend, onbeskof, moedswillig, liefdeloos, hulle vloek, hulle het woede-uitbarstings, hulle lieg, hulle steel. Jesus het juis nie van sulke mense af weggeskram nie. Jesus stuur ons nie uit na die “goeie mense” nie. Hy stuur ons na die sondaars. As ek en jy hulle nie van Jesus vertel nie, wie sal? Moenie van hulle af wegskram nie. Beweeg uit jou gemaksone. Saam met wie kuier jy? Saam met wie eet jy?

Ds Errol Sheppard, Rietspruit

Share via
Copy link
Powered by Social Snap