Psalm 4

Psalm 4 is ’n aandlied. Die Psalmskrywer sing hierdie lied voor hy gaan slaap. Hy onthou dat hy gedurende die dag God se vriendelike gesig gesien het. Hy was gedurende die dag doodsbenoud en het hom bekommer oor al sy probleme. God het egter sy vriendelike gesig vir hom gewys en nou kan hy rustig in sy bed klim. Hy besef dat God in alles by hom was – in die goed en die sleg, in sy benoudheid en sy vreugdes. Hy dink nie net aan homself nie, maar ook aan al sy vriende wat swaarkry. Hy motiveer hulle om God se glimlag raak te sien.

Hoe lyk jou daaglikse roetine? Soggens spring die meeste van ons met ’n vaart uit die bed uit, nadat die wekker ons wreed uit die slaap geruk het. Ons skarrel om alles gedoen te kry, kinders betyds by die skool af te laai en self by die werk uit te kom. Daagliks moet ons moeilike base trotseer, kollegas met die nodige takt hanteer en al die werk afhandel wat van ons verwag word. Na werk worstel ons met kinders se naskoolse aktiwiteite, kosmaak, alles gereed maak vir môre se werk. Snags val ons uitgeput in ons beddens neer, dankbaar dat nog ’n dag verby is. Môre is dit weer dieselfde sleurroetine. Die Psalmis kry dit reg om terug te kyk na die dag wat verby is en te sien dat God dáár was. God het hom bewaar, hom beskerm teen mense wat hom skade wou aandoen. Hy kry dit reg om te midde van ’n besige dag en bekommernisse, die glimlag van God raak te sien. Hy slaap rustig, want hy weet dat God hom môre ook sal bystaan en vir hom sal glimlag. Môre kan hy weer met nuwe krag opstaan en verseker wees van God se goedheid.

God steek sy gesig vir niemand weg nie. Dalk kan ons net meer moeite doen om, te midde van ons besige dag, sy glimlag te herken en sy sorg elke minuut van ons lewens te vier.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link