2 Korintiërs 1: 18-20

…Jesus Christus, die Seun van God, wat ons …  aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê (verse 19-20).

Om amen te sê as ons klaar gebid het, mag nooit ’n gewoonte of ’n blote ritueel word nie. Dit is ’n vaste verbintenis. God roep ons om van ons lewe ’n amen te maak vir sy doel, ’n lewe wat ja sê vir God. Wat bedoel ons? Ons het ’n gesegde wat lui dit is ja en amen, bedoelende dit staan vas, daar is nie omdraai nie.

God het ja gesê vir ons. Ek sal vir jou ’n God wees; Ek het jou op jou naam geroep; Ek sal jou nooit begewe en nooit verlaat nie; só lief het Ek jou, dat Ek my Seun na hierdie wêreld toe gestuur het. Dit alles beteken dat God al sy beloftes aan ons in vervulling laat gaan het deur Jesus. Hoe staan dit hierbo? Jesus is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê … tot eer van God daarop Amen sê. Ja, tot eer van God gaan ons ons lewens ook gee… tot eer van God ander liefhê, tot eer van God vrede bewaar, tot eer van God geduldig wees… Hierdie amen, hierdie ja, beteken dat ons voluit gaan lewe, voluit tot eer van God en in belang van mekaar.

As ek daarom my gebed gebid het en amen gesê het, het ek bedoel: Here, ek kom met my lof en dank, die versugtinge van my hart, die kortsluitings in my lewe, die bangmaakgoed van elke dag – ek kom lê dit aan u voete. Ja, amen, ek weet U gaan die beste vir my laat gebeur. Ja, amen, ek gaan ook my beste vir U gee.

Genadige Vader, dankie dat u altyd ja sê tot ons beswil. Ek sê ja tot u eer. Amen.

Dr Hannes Beukes, Emeritus/Morgenzon

af
af
Deel met behulp van
Copy link