Matteus 6: 25-34

Jesus se opdrag is: Moet julle nie bekommer oor die lewe nie… Met lewe bedoel Hy bestaan of oorlewing. Die lewe is belangriker as kos en die liggaam as klere. Daar is ’n deel van elke mens wat nie tevrede gestel kan word met die dinge van Mammon nie. Dit is die geestelike deel wat hunker na kontak met God en na die seëninge wat net by die Here te vind is.

Hy beskaam die gelowiges. Die ongelowiges is deurentyd bekommerd oor die middele wat nodig is om te oorleef. Maar julle ken tog vir God. Vertrou julle Hom dan nie? Julle kan nie so ingestel wees op oorlewing dat julle vir God vergeet nie. Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God, en Hy sal vir julle al die middele voorsien om van te lewe.

Dit is baie belangrik dat ’n mens gereeld, daagliks en weekliks, tyd moet maak om te dink oor die dinge in jóú lewe waarvoor jy God moet dank. Dit is soos ’n teenmiddel teen die gif van swaarmoedigheid, depressie, hartseer, wanhoop en kommer wat jou wakker hou in die nag. Jesus se woorde is soos die lafenis van reën op die droë aarde. Waarom bekommer julle jul so aanhoudend oor dinge wat met die aardse bestaan te make het, en so min oor die geestelike? Hy vra ons om te dink of ons lewe die regte beeld vertoon van iemand wat vertrou dat God op die een of ander manier sal voorsien vir ons lewe soos Hy doen met die voëls en die blomme. Kommer sal nie jou lewe met een uur verleng nie. Maar vertroue op God bring vrede en kalmte, en dit kan boonop jou lewe sommer met ’n paar jaar verleng, so leer die mediese wetenskap ons.

Daarom kom die boodskap na elkeen van ons vandag: Moenie verlam raak weens jou probleme nie. Hanteer elke dag se probleme soos hulle kom. En tel jou seëninge, een vir een. Jy sal sien jy is eintlik ryk.

Dr Piet van Staden, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link