1 Korintiërs 15: 12-20

Ons as mense vind dikwels ons sekuriteit en sin in die lewe in iets van die wêreld waarin ons woon:  ons kinders, ons werke, ons ontspanning, ons gesondheid, ons skatte, ons planne… Dan is dit dikwels Christus wat moet waarborg dat al hierdie drome en ideale met sukses bekroon word. Só ’n lewenshouding maak van ons die bejammerenswaardigste (ellendigste) van alle mense (vers 19), of soos Die Bybel vir almal dit stel: …dan moet al die mense baie jammer wees vir ons. Die rede daarvoor is dat die dood dan nog die laaste sê oor ons het en dat ons Christus se opstanding eintlik ontken. So trek die dood ’n streep deur alles waarin ons ons vreugde, geluk en sin probeer vind.

Die waarheid van die evangelie van Christus se opstanding is natuurlik dat die dood oorwin is. Die laaste vyand is vernietig. Ons het hoop. Die lewe is nie sinloos nie. Selfs die krisisse wat ons beleef en wat ons soms beroof van troos en bemoediging, het nooit die laaste woord nie. Selfs wanneer ons voor ons laaste vyand, die dood, te staan kom, kan ons dit steeds doen met vreugde en blydskap, want anderkant die dood lê die ewige lewe. Christus se opstanding uit die dood het ons hooploosheid verander in sin, ons droefheid in blydskap. Sy opwekking maak ons opgewek. Ons het die ewige lewe.

Hierdie hoop maak nie dat ons in hierdie lewe met minder erns vir Christus sal lewe nie. Inteendeel; dit spoor ons aan om met ywer te lewe, sodat ons, wanneer ons te staan kom voor uitdagings en selfs die dood, steeds mag hoop.

Dietrich Bonhoeffer, wat letterlik sy lewe gegee het in politieke betrokkenheid ter wille van sy naaste, se heel laaste woorde aan sy medegevangenes, toe hy gehaal is om die doodstraf te ondergaan, was: Hierdie is die einde. Vir my die begin van lewe.

Mag jy nuwe sin in jou lewe vind deur jou geloof in die opgestane Here Jesus Christus.

Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap