Matteus 26: 47-56

Die gebeure in Getsemane is baie onregverdig. Soos ’n mens lees, hoop jy dat die verhaal anders sal eindig. Weet die verskillende groepe wat hul kragte saamsnoer om Jesus te kom arresteer dan nie wie Hy is nie?

Hulle weet wel wie sy volgelinge is. Die Joodse leiers wéét die mense verwag die messias wat teen Rome sal oorlog voer, en hulle noem Jesus Messias (al sê Hy hulle moet dit nie doen nie). Die Romeine wéét die Jode het onlangs ’n man in Jerusalem as koning ontvang met uitroepe van Hosanna, verlos ons tog. Judas wéét ’n vrou het Jesus met ’n hele fles olie tot koning gesalf.

Mense kom nie gewapen in die nag om die Vredevors te vervolg nie. Hulle kom gewapen om die leier van ’n gewapende groep rebelle te arresteer. Die onregverdigste deel van hierdie gebeure is nie dat Jesus onregverdig deur die Jode en Romeine geoordeel is volgens sy eie optrede nie, maar dat Hy regverdig veroordeel is, volgens sy volgelinge se optrede. Soos een van Jesus se volgelinge bewys wanneer hy na die swaard gryp. Hier, meer as op enige ander plek, kan ons sê dat Jesus letterlik onskuldig vir sy volgelinge se sonde gesterf het.

Mense berei hulle voor om Christus te ontmoet volgens die manier waarop hulle sy volgelinge ken. Vergewensgesind, of vergeldend. Diensbaar, of hoogmoedig. Opbouend, of afbrekend. Ontvanklik, of verdedigend. Sê ons vir ons vyande Christus het hulle lief, of dat hulle met sy koms vernietig sal word?

Ons heg vir die wêreld betekenis aan die titel van ons Christus. Ons hoef nie te hoop dat hierdie verhaal sal verander wanneer ons dit lees nie. Ons het die geleentheid om dit te verander. Met ons lewens kan ons die wêreld voorberei om die Christus te ontvang volgens sý optrede.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link