Amos 3: 1-8

Amos het in ’n tyd van stabiliteit en welvaart geleef, maar dit was ook ’n tyd van geestelike en morele verval. Die mense het nie goeie lewens geleef nie. Selfs die Here se wet het onderhandelbaar geword. Nou bring Amos hierdie boodskap: Die Here het gepraat, hoekom sal jy nie luister nie? Amos gebruik baie voorbeelde om te verduidelik dat dit eintlik nie sin maak om ongehoorsaam aan God te wees nie. En die mense was kwaad vir hom. In ’n tyd van voorspoed het hy ’n oordeelsboodskap gebring. Hy het hulle laat skuldig voel toe hulle geweet het hulle tree verkeerd op.

Dis baie maklik om vandag terug te kyk en te dink dat ek anders sou opgetree het, maar is dit regtig so eenvoudig? Sou ek in daardie omstandighede die Here se woord aangeneem het, of sou ek ook kwaad geword het? Dis nooit maklik om te erken dat ek ’n fout gemaak het nie. Dis nie altyd lekker om te weet dat ék die een is wat my gedrag of my gesindheid moet verander nie… Ek word kwaad, ek neem aanstoot, ek baklei. Hierdie opstand maak dat ek al hoe verder van die Here af wegbeweeg. Uiteindelik raak God vir my ’n vreemdeling. Nou hoor ons Amos se boodskap: Ek kan nie terselfdertyd die Here eenkant toe stoot en naby aan Hom leef nie. Ek kan nie rusie aanblaas en ook die Here se vrede ontvang nie. Ek kan nie volhard in sonde en terselfdertyd die Here se kind wees nie. Die Here wil my lei, wil ek gelei word? Die Here wil naby aan my wees, wil ek naby aan Hom wees? Die Here wil my versorg, sal ek sy gawes aanneem?

Kom ons leef vandag só dat die Here nie vir my ’n vreemdeling sal wees nie. Hy wil my seën, Hy wil my beskerm. Die Here wil my red, my genadig wees. Hy wil my gebede verhoor en vandag vir my sy vrede gee.

Ds Pieter Rossouw, Mafeking

Share via
Copy link
Powered by Social Snap