Eksodus 12
Die teks fokus op die volk van die Here as geloofsgemeenskap en op wat die boodskap van die pasga vir hulle as gemeenskap was. Die Joodse pasga was ’n gemeenskaps- en familiefees.
Die volk van die Here is hier in Egipte en hulle leef as slawe van die Egiptenaars. Hulle moet stene maak en hulle word gebruik om die werkers te wees in die farao se reeks indrukwekkende bouprojekte. God stuur Moses en Aäron om te onderhandel vir hul vryheid, maar die farao weier om van sy goedkoop arbeid ontslae te raak. Die Here stuur nege plae om die farao God se mag te wys en hom te oortuig om die Israeliete te laat gaan. Die farao skop egter vas, en God stuur nou die tiende plaag: Die eersgeborene van elke mens en dier in Egipte gaan sterf. Die God wat mag het oor lewe en dood is duidelik die sterkste God en het mag oor die Egiptiese gode, waarvan die farao as een gesien is. Die eintlike stryd hier is nie tussen Egipte en Israel nie, maar tussen die ware God en die farao en gode van Egipte.
In die lig van wat God hier in Egipte wil doen met die tiende plaag, word daar aan die mense van Israel deur Moses opdragte uitgereik. Die boodskap en opdragte, lees ons in vers 3, is vir die hele gemeente van Israel. Nie net vir sekere individue nie. Niemand word uitgesluit nie. Almal moet dieselfde opdragte uitvoer. Hier is geen vooraanstaande mense wat anders behandel word oor hulle geld en mag en invloed het nie. In Eksodus 12 word die eerste pasga gevier, en hierdie fees is so belangrik dat die maand waarin dit gevier word, nou die belangrikste en eerste maand van hul kalender moet word. Die jaar begin dus by die viering van wat God gedoen het deur hulle uit Egipte te bevry.
Die kruisdood en opstanding van Jesus Christus herinner ons daaraan dat ons nie alleen staan en leef voor God nie. Ons is deel van ’n geloofsgemeenskap wat saam met ons voor God staan. Sy dood en opstanding is nie net bedoel om individue te laat dink aan hul redding nie, maar ook aan dié van medegelowiges.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos