Filippense 4: 4-8

Vandag vier ons die tweede Adventsondag – ’n Sondag wat tradisioneel met “vrede” geassosieer word. Jesus word die Vredevors, Immanuel, God met ons genoem. Die engele sing met sy geboorte vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het. Ons lees op ’n ander plek in die Bybel dat Jesus aan sy dissipels verskyn het na sy opstanding. Twee maal groet Hy hulle met die woorde: Vrede vir julle. Wat beteken hierdie vrede? In ’n wêreld wat gestroop is van vrede, wat vol geweld, misdaad en oorloë is, kom God in hierdie Adventstyd en raak te midde van die onstuimigheid in en om ons, ons harte aan met sy vrede – vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Wat is vrede? Die HAT het twee definisies van vrede: die afwesigheid van oorlog of konflik of ’n innerlike gevoel van rus en kalmte. Is dit moontlik om waarlik God se vrede te ervaar en daarin te lewe te midde van ons eie vrese en onvrede? Ons omstandighede, onsekerheid en twyfel skep voortdurend konflik in ons binnestes. Tog het God se vrede in die eerste plek nie met ons uiterlike omstandighede te doen nie. God se vrede gaan oor ons verhouding met God en ons houding teenoor die lewe vanuit ons verhouding met God.

Dalk roep die onstuimige omstandighede waarin ons ons voortdurend bevind, ons as Christene, as kerk op om boodskappers van God se vrede en liefde te wees. Om Jesus se hande en voete, sy mond te wees. Om vreugde te bring waar daar droefheid is, om blydskap te bring waar daar hartseer is, om dié wat moedeloos is op te beur, om hoop te praat waar daar hopeloosheid is. Ons maak vrede met die mense rondom ons! Nie aardse vrede wat gekoppel is aan voorwaardes nie – God se onvoorwaardelike vrede. Ons bid met danksegging vir ons families en vir diegene wat nie die vrede van God ervaar nie. Mag God ons elkeen in ons onstuimige tye, in ons bang-wees en baie vrae, opnuut ontmoet!

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia

Share via
Copy link
Powered by Social Snap